Twee vroue sterf toe vragmotor by Deneysville in hulle vasry

0
343
Photo: grubstreet.com

Die Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, Sam Mashinini het sy medelye teenoor die familie en vriende van twee werknemers betuig, wat vanoggend by Deneysville gesterf het nadat ‘n vragmotor in hulle vasgery het.

Die departement se woordvoerder, Hillary Mophethe, sê die twee vroue is op die toneel dood, nadat ‘n vragmotorbestuurder omstreeks 02:00 glo ‘n ‘stop-en-ry’-teken in Jim Fouchéstraat verontagsaam en in hulle vasgery het. Die oorledenes se familie moet nog in kennis gestel word.

Mophethe sê die bestuurder van die vragmotor is vir strafbare manslag in hegtenis geneem. Sy maan dat padgebruikers waaksaam moet wees en stilhou wanneer hulle moeg raak.

“Die twee werkers het vir ‘n kontrakteur van die departement wat paaie herstel, gewerk. Lede van die departement is op pad na Deneysville om die familie te spreek. Die LUR was geskok oor die nuus. Niemand verdien om op die paaie te sterf nie,” sê Mophethe.

-Mark Steenbok