Twee studenteproduksies op pad

0
1511
Nico Taljaard en Marnique Labuschagne is eersdaags te sien in die UV-dramadepartement se kindertoneelstuk, Coppélia en die Poppemaker. FOTO: ESTÉ STRYDOM

Die Universiteit van die Vrystaat se dramadepartement bring binnekort twee opwindende produksies op die planke.
Die eerste is Pharmakon, waarvan die teks, sowel as die regie, as ‘n ensemble deur die UV Drama en Teaterkuns-Honneursgroep aangepak is.
Die woord Pharmakon beteken genesing sowel as gif in Grieks. Pharmakon is ‘n produksie wat uit die tragiese verhaal ontwikkel is van ‘n ma wat haar kinders vermoor in haar poging om hulle van ‘n wêreld vol onsekerheid te red. Deur die produksie word die huidige Suid-Afrikaanse klimaat ondersoek deur ‘n nuwe generasie – ‘n generasie wat gebroke ideale, blinde waardes en ‘n kultuur van protes geërf het. Jong boompies, wat vasgekeer word, sien betogings as hul enigste uitweg om gehoor te word.
Dié drama wat in Engels, Afrikaans en Zoeloe opgevoer word, kan gesien word van 17 tot 19 Augustus, elke aand om 19:00, in die Scaena-teater op die hoofkampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV). Die stuk het ‘n ouderdomsbeperking van 14 weens taalgebruik. Kaartjies kos R40 vir volwassenes, R30 vir studente en skoliere en R25 vir pensioenarisse by Computicket.
Die tweede produksie, wat vroeg in September te sien sal wees, is Coppélia en die Poppemaker. Die stuk is deur Karen Combrinck geskryf.
Geskoei op die beroemde ballet, is Coppélia en die Poppemaker níé ‘n ballet nie, maar ‘n toneelstuk vir kinders van alle ouderdomme.
Coppélia en die Poppemaker is die jongste kinderstuk wat op ‘n klassieke werk gegrond is en word deur regisseur, Marijda Kamper, op die planke gebring. Sy word bygestaan deur Ané van den Berg en tweedejaar-dramastudente vertolk die rolle.
Coppélia en die Poppemaker word op 2 September om 11:00 en 18:00, 3 September om 11:00 en dan weer op 8 September om 15:00, 9 September om 13:00 en 18:00 en 10 September om 11:00 in die Scaena-repetisielokaal op die UV-kampus opgevoer. Kaartjies kos R25 per persoon of R20 per persoon vir groepe van tien of meer. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Kontak Karen Combrinck by 051-401-2160 vir groepbesprekings.