Tuisopvoeders en -leerders besoek Naln

0
648
Naln het onlangs besoek ontvang van 30 Bloemfonteinse tuisonderwysers en -leerders.

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) het op 1 Februarie 2018 ‘n groep van 30 Bloemfonteinse tuisonderwysers en -leerders ontvang.
Die groep is vermaak met ‘n skattejag en raaisels op Internasionale Hardopleesdag by Naln. Party het gedans, gedraai, geraai en speel-speel met die Naln-skattejag meer geleer oor Afrikaanse skrywers soos Ingrid Jonker, Jan Rabie, CJ Langenhoven, AD Keet, AG Visser en Jan FE Celliers. Al 30 besoekers het Werner Schmidt se op-en-wakker vertelling geniet oor Arthur Fula, Xhosa- pionierskrywer in Afrikaans en ontvanger van die Orde van Ikhamanga in 2017. Naln is dié museum vir ‘n “lekker letterkundige museumtoer” met ‘n skop!
Daleen Botha, ‘n tuisopvoeder, het gesê: “Ek het dit baie geniet. Die boekekelder, boekwinkel en die handtekeninge was interessant om te sien. Ons gaan teruggaan om die skattejag nog ‘n keer te doen.” Anneline Bothma het ook gedink dat dit baie lekker was. “Ek was beïndruk met die moeite wat Naln gedoen het en hoe entoesiasties Annelien en Amanda (van Naln) is. Ons wil gou weer teruggaan na Naln om nog meer van die uitstallings te sien.”
‘n Agtjarige leerder, Petro-Mari Schmidt, was baie opgewonde oor die besoek. “Dit was lekker by Naln. Ek het die skattejag, die storie van Arthur Fula en raaisels baie geniet.”
Die publiek word genooi om die leefwêreld van geliefde Afrikaanse skrywers by Naln te ervaar. Kontak Annelien Diedericks by tel. 051-405-5407 (w), e-posadres: annelien.naln@sacr.fs.gov.za of vriendevannaln@gmail.com – geen groep is te groot, te klein, te oud of te jonk nie!

ZILKE PRINSLOO
zilke@mahareng.co.za