Transito-rowers steeds gesoek

0
375

Die polisie in die Vrystaat se ondersoek na twee afsonderlike transito-rooftogte verlede week in Bloemfontein duur voort. Polisiewoordvoerder, Wendy Nkabi, sê niemand is nog aangekeer in verband met ‘n rooftog Vrydagmiddag waarin drie sekuriteitswagte van Fidelity Coin Services by ‘n onderneming in Hilton van ‘n onbekende bedrag geld beroof is nie. Sy sê vyf gewapende mans het die geldwa beroof toe dit by C&F Motor Spares in die stad gestop het.

Een van die sekuriteitswagte is in die gesig geslaan en het nekbeserings opgedoen. Een van die wagte se vuurwapens is gebuit. Nkabi sê die polisie soek nog na vyf mans in verband met ‘n gewapende transitorooftog by ‘n bank by Prellerplein Woensdagmiddag.

‘n Veiligheidswag van die sekuriteitsmaatskappy SBV is in dié rooftog gewond. Volgens haar het een van die rowers ‘n wag, wat saam met ‘n kollega die bank met verlaat het, met ‘n 9mm pistool in die hand gewond. Bloemfontein Courant kon nog geen bevestiging kry of dié twee rooftogte met mekaar verband hou nie. – Christal-Lize Muller