Torings van Hoop benodig jou hulp dié Kersfees

0
83
Torings van Hoop het hulp nodig vir 'n Kersbederf aan minderbevoorregtes.

Kersfees is ‘n tyd van liefde en omgee en baie van ons wil graag minderbevoorregtes en eensames in hierdie tyd geliefd laat voel.
Vanjaar werk Torings van Hoop met ‘n brandende hart as simbool van God se onvoorwaardelike en kragtige liefde. Mense word gevra om hierdie Kerstyd aan te sluit by die organisasie en so deel van God se liefde vir ‘n stukkende samelewing te wees.
Voor Kersfees wil Torings van Hoop graag een nag met sy weeklikse nag-uitreik aan dames wat in prostitusie vasgevang is, ‘n spesiale geskenkie uitdeel en so iets van God se brandende liefde aan hulle oordra. Iets soos ‘n stukkie kunsjuweliersware, lekkerruik-goedjies, sepies, miskien ‘n mooi waslappie of sjokolade. Torings van Hoop wil dit graag alles in ‘n keurig-gemaakte sakkie verpak (as deel van hul Thessa-program) met ‘n woord oor God se liefde daarop geborduur. Volgens De la Harpe le Roux van Torings van Hoop hoop hulle om sowat 40 sulke geskenkpakkies uit te deel.
Vir die sowat 20 straatkinders word ‘n lekker dag by die Stadion-swembad (of ‘n ander openbare swembad) beplan. “Ons wil die kinders bederf met hotdogs, koeldrank, lekkernye en vrugte.
En dan is daar die groot Kersete op Kersdag wat ná die Kersdiens om 10:00, teen 11:30, gehou word waarna almal uitgenooi is. Dit is vanjaar die negende keer dat Torings van Hoop hierdie hoogs suksesvolle projek aanpak. Van die 120 mense wat sedert 2008 die besonderse geleentheid bygewoon het, het die getal gaste na meer as 400 in 2015 gegroei.
“Ons is geseënd om nog altyd genoeg kos te hê vir almal. Ons wil ook baie dankie sê aan almal wat dit jaar ná jaar moontlik maak. Ons het reeds (danksy ‘n klompie wonderlike skenkings van individue en veral Shoprite-Checkers) baie stampmielies en rys, asook baie aanmaak-koeldrank, maar as iemand ons met so 500 blikkies gaskoeldrank kan help, sal dit uitstekend wees,” sê Le Roux.
Die organisasie hoop om vier groot potte potjiekos met bykosse vir vanjaar se Kersete te maak en vra persone wat graag wil betrokke raak om te help met die skenk van vleis en groente, die leen van swart potte, ens.
Finansiële bydraes is ook baie welkom vir die Kersprogram. Dit kan by die Tweetoring-kerkkantoor gedoen word, of weldoeners kan Torings van Hoop kontak by 051-430-4274 of info@towersofhope.org om te hoor hoe hulle oor hierdie tydperk betrokke kan raak.