Toestande vir reën gunstig

0
1117

Die vooruitsig op reën in ‘n groot deel van die Vrystaat en Noordwes hierdie naweek, is gunstig. Daarmee saam word koeler dagtemperature in die lae twintigs voorspel. ‘n Weervoorspeller in die Bloemfonteinse weerkantoor, Tonie Rossouw, sê daar is ‘n 60% kans op reën in Lesotho en omliggende dele soos Ladybrand, Ficksburg, Zastron en selfs Bethlehem, Saterdag en Sondag, terwyl daar ‘n 30% kans op reën vir die res van die Vrystaat en die suidoostelike deel van Noordwes is. Hy voorspel reënvalsyfers van 10 tot 20mm vir Lesotho en omliggende dele, terwyl die syfers vir die res van die Vrystaat laer kan wees.

Volgens Rossouw is reëntoestande vir die eerste keer die seisoen gunstig. Saterdag gaan bewolk wees oor die grootste deel van die Vrystaat, met buie en donderbuie wat later die middag gaan voorkom. Dié toestande duur voort tot Sondagoggend, waarná dit teen die middag begin opklaar. Die reën in Lesotho en omliggende dele in die Vrystaat sal eers teen Sondagaand opklaar. Die reëntoestande in die binneland is veroorsaak weens ‘n afsnylaag in die bolug wat in die Wes-Kaap ontwikkel. “Hoewel dit (afsnylaag) swak is, gaan dit gepaard met ‘n bolugtrog wat onstuimige toestande in die sentrale deel van Suid-Afrika veroorsaak.” ‘n Band van wolke kom uit die Noord-Kaap waar geen reën voorspel word nie.

Rossouw voorspel sonnige toestande vir volgende week in die grootste deel van die sentrale binneland. Goeie nuus is egter dat nog buie en donderbuie volgende naweek in groot dele kan voorkom. – Christal-Lize Muller