Tharina blink wéér uit met bobaasrekord

0
1305
Tharina van der Walt het die naweek twee titels (hamergooi en diskusgooi) op die Suid-Afrikaanse hoërskole-atletiekkampioenskap gewen. Die nommer waarin sy hierbo in aksie is (diskusgooi), het sy met 'n nasionale skolerekord beklink. FOTO: ACTION PHOTOS

Tien elk. Dit is die telling in die ‘stryd’ wat goue medaljes aan betref tussen die seuns en meisies van die Vrystaat-hoërskole-atletiekspan nadat die Suid-Afrikaanse (SA) hoërskole-atletiekkampioenskap die afgelope naweek in Durban beslis is. Dié ‘stryd’ kan egter met ‘n kortkop toegeken word aan die meisies, want die kragvrou in veldnommers onder skoliere in die Vrystaat, Tharina van der Walt, was die enigste Vrystater wat ‘n oorwinning met ‘n Suid-Afrikaanse skolerekord kon beklink.

Van der Walt, wat vanjaar onkeerbaarbaar was in die diskus- en hamergooi, het in haar ouderdomsgroep (17 jaar) albei nasionale titels gebuit, en dit met afstande wat haar naaste teenstanders na beginners laat lyk het.

Hoewel Van der Walt nog nie vir Courant kon sê watter een van die genoemde nommers haar spesialisnommer gaan word nie, het sy in Durban die Suid-Afrikaanse rekord dié keer in die diskusgooi haar eie gemaak. Sy het haar diskusskyf ‘n allemintige 50,85 meter deur die lug laat trek om die silwermedaljewenner en ook ‘n Vrystater, Colette Uys (43,37m), met meer as sewe meter te wen.

Van der Walt het wel nie die SA rekord in die hamergooi verbeter nie, maar haar wengooi was meer as tien meter verder as die van die naaswenner, Kayla Smith (Wes-Kaap, 51,04 meter). Van der Walt (61,10m) het vir die soveelste keer vanjaar die hamer verder as 60 meter laat land.

Nóg ‘n Vrystaatse veldnommeratleet, Mia van Rheede van Oudtshoorn, het twee titels ingepalm. Sy het in die afdeling vir meisies 19 jaar die gewigstoot gewen met ‘n gooi van 14,08 meter en sodoende die silwermedaljewenner, Johanna Steinman (Noordwes-Noord, 13,18m) maklik gewen.

Van Oudsthoorn het die diskusgooi ook haar eie gemaak toe sy met ‘n afstand van 41,60 meter as kampioen gekroon is en vir Annerie du Toit (Mpumalanga, 40,57m) in die tweede plek ingedwing het.

Die tenger Nicole Louw het met ‘n puik goue tweekuns in die 1500m en 3000m vir meisies 17 jaar vorendag gekom. Sy het die 1500m in ‘n kookwater 4:21,44 gewen en dit met ‘n eweneens goeie 3000m oorwinning opgevolg in 9:42,55.

Ngconde Matwebe het Louw dit nagedoen en in dieselfde nommers in die afdeling vir seuns 17 jaar goud gebuit. Hy het die 1500m in 3:53,26 gewen en dit opgevolg met ‘n haastige oorwinning in die 3000m in 8:33,32.

Die res van die gouemedaljewenners onder Vrystaatse geledere is:

Meisies: 15 jaar: spiesgooi: Heike de Nysschen (45,99m), hamergooi: Phethisang Makhete (54,67m). 19 jaar: 3000m: Tyler Beling (9:49,90), paalspring: Nadja Fourie (3,50m).

Seuns: 15 jaar: gewigstoot: Tielman Nieuwoudt (18,12m), diskusgooi: Wynand Swanepoel (63,72m). 17 jaar: 10 000m-stap: Jacques Heymans (51:51,00). 19 jaar: 200m: Tsebo Matsoso (21,19), 400m: Bongani Sithole (47,08), 3000m-hindernis: Nope Molejane (8:57,82), paalspring: Stian Scholtz (4,40m), hamergooi: JC Schultz (65,25m).