Talle VS-atlete vertoon beter as SA kampioene

0
1514
Tharina van der Walt (Jim Fouché) het Vrydag tydens die Hoërskool Sentraal en Noordwes-Pukke- uitnodigingsbyeenkoms op die Mangaung-atletiekstadion in Bloemfontein oudergewoonte met skittervertonings losgetrek. Sy het die diskusgooi en gewigstoot vir meisies 17 jaar albei met byeenkomsrekords beklink. FOTO: ACTION PHOTOS

Veldnommeratlete het Vrydag tydens die Hoërskool Sentraal en Noordwes-Pukke-uitnodigingsbyeenkoms vir hoërskole op die Mangaung atletiekstadion in Bloemfontein die oorhand gehad met prestasies op hoogste nasionale vlak.

Gemeet aan verlede jaar se Suid-Afrikaanse (SA) hoërskolekampioenskap wat in die einste Rosestad beslis is, sou vier atlete, wat Vrydag oorwinnings gesmaak het, met hulle prestasies goud gebuit het op genoemde nasionale kampioenskap. En, hulle was almal in veldnommers in aksie.

Cora Groenewald (Oranje) en Tharina van der Walt (Hoërskool Jim Fouché) se vertonings is van só ‘n hoogstaande gehalte dat die res van die land se atlete wat vanjaar teen hulle moet deelneem, slapelose nagte gaan beleef.

Groenewald het in die verspring vir meisies 15 jaar met ‘n reusesprong van 5,69m in die sandput te lande gekom. Dit is ‘n goeie 23cm verder as die huidige nasionale kampioen, Amy van Vuuren (Oos-Kaap, 5,46) se gouemedalje-sprong in 2016.

Van der Walt was oudergewoonte in ‘n klas van haar eie. Sy het in die diskusgooi vir meisies 17 jaar haar skyf op ‘n skitterende 48,04m met die gras laat kennis maak. Dit is meer as twee meter verder as die wenner op verlede jaar se SA byeenkoms. En, laasgenoemde wenner was Van der Walt self, wat die SA titel (2016) met 45,93 beklink het.

Van der Walt het in die gewigstoot wat sy, soos sy dit stel, “vir die lekker doen en slegs oefen as ek aan byeenkomste deelneem”, ook verspot maklik gewen met ‘n gooi van 14,70m.

Van der Walt het nie Vrydag aan die hamergooi deelgeneem nie, want dié nommer was nie op die Sentraal-byeenkoms se program nie. Sy is die nasionale jeugrekordhouer in die hamergooi en Courant wou by haar weet of diskus- of hamergooi haar voorkeurnommer is: “Tans is albei van hulle my voorkeurnommer. Ek kan nog nie besluit nie en terwyl ek goed presteer in albei, gaan ek albei met oorgawe takel.”

Mia van Oudsthoorn (Afrikaans Hoërskool, Kroonstad) het soos Van der Walt in die diskusgooi en gewigstoot puik vertoon. In die diskusgooi het sy het in die afdeling vir meisies 19 jaar met ‘n afstand van 41,40m losgetrek. Dit is 39cm verder as verlede jaar se wenner op die SA-skolebyeenkoms.

Van Oudsthoorn het in die gewigstoot self ‘n bobaasvertoning gelewer. Haar wenafstand (13,06) is slegs een sentimeter korter as die goue-medaljepwenner (13,07) op die einste SA skolekampioenskap.

Toe kom die kragman van die Hoërskool Grey-kollege, Tielman Niewoudt, en hou die manne se naam hoog op die Sentraal-byeenkoms. In die gewigstoot vir seuns 15 jaar laat hy sy ysterbal ‘n uitstekende 17,81m deur die lug trek. Dié gooi sou hom verlede jaar op die nasionale skolekampioenskap die goud besorg het. Die wenner op laasgenoemde byeenkoms, André Bester (Wes-Kaap, 17,02) het ‘n stewige 79cm korter as Niewoudt vermag. – RUFUS BOTHA