Talent in oorvloed op atletiekkursus in Bfn

0
1443
Suid-Afrika se beste vroue-diskusgooier tot nog toe, Elizna Naudé, maak hier van die atlete op die naweek se atletiekkliniek in Bloemfontein touwys oor die fynere kunsies van diskusgooi. FOTO: BLOEMFONTEIN ACTION PHOTOS

“Die atletiektalent en entoesiasme van die meer as 230 atlete en afrigters wat die naweek deel was van ‘n atletiekkliniek op die Mangaung-stadion in Bloemfontein, is iets om oor opgewonde te raak.”

So gesels ‘n opgewonde en hoogs tevrede Jan Brits, wat dié kliniek, wat nie minder nie as 235 afrigters en atlete gelok het, gereël en bestuur het. Die kliniekgangers het van oral gekom om by van die beste afrigters in Suid-Afrika te kom leer. Die Hoërskool Duineveld en Hoërskool Douglas het onderskeidelik 41 en 27 afrigters en atlete gehad wat die kliniek bygewoon het.

Elizna Naudé, Suid-Afrika se voorste vroue-diskusatleet tot nog toe, het saam met die einste Jan Brits die diskusgooi by die kliniek aangebied. Brits het in sy eie reg reeds veelvuldige SA kampioene in veldnommers gebrei.

Een van die hoogtepunte van die naweek was toe die Bloemfonteinse wêreldrekordhouer en Olimpiese Spele-kampioen in die 400m, Wayde van Niekerk, se ma, Odessa Swarts, en sy stiefpa, Steven Swarts, tydens die opening met kliniekgangers gesels het. Die tema was heel gepas en soos Suid-Afrika reeds vir Van Niekerk leer ken het, was nederigheid deel daarvan. Odessa en Steven het die naelloopafrigting behartig.

Skitterende atlete uit Vrystaat-geledere is by die kliniek gebruik om tegniekdemonstrasies te doen. Die twee Grey-manne, Jannes Schlebusch (spiesgooi) en Herman Agenbach (diskusgooi), se hulp aan kliniekgangers was goud werd.

Dan was daar ook die hoofmeisie (2016) van Sentraal, Maryna van Wyk, wat geen onbekende op nasionale gebied in die hekkiesnommers is nie, wat haar beste voet voor gesit het en haar bykans foutlose tegniek gedeel het.

Haar bekende afrigter, Dup du Plessis, wat reeds hordes internasionale atlete en nasionale kampioene afgerig het, was die kursusleier in die hekkiesnommers. Le Roux Jordaan het die verspring behartig en Johan Human die hoogspring. Rika Knoetzen was in beheer van die middel- en langafstande, terwyl Conradie Scheepers en Frans Human (saam met Schalk Brand) onderskeidelik die gewigstoters en spiesgooiers onder hul vlerke geneem het.
Die president van AVS (Atletiek Vrystaat) het ook ‘n draai kom maak by die kliniek en was in sy noppies met die gehalte van die afrigters en atlete. – RUFUS BOTHA