T-hemde kry só nuwe lewe

0
374

“Elke hemp het sy eie geskiedenis,” probeer ek onlangs aan my vrou verduidelik. Sy raak keelvol vir my meer as 200 T-hemde wat orals in kaste hang.
“Hulle is déél van my menswees.” Sy verstaan dit glad nie. Maar sy willig darem in om nie te begin uitsmyt nie, mits ek hulle na ‘n buitekamer toe skuif.
Die eenvoudige T-hemp is reeds sowat ‘n honderd jaar met ons. Die woord T-shirt het amptelike status verkry toe dit in 1920 in die Merriam-Webster-woordeboek opgeneem is.
Bemarkers het gou die advertensiewaarde van die hempies raakgesien. Een van die eerste embleme op ‘n T-hemp was in 1939 in The Wizard of Oz. Die woord “OZ” kan op die groen T-hemde van die karakters in een van die tonele gesien word. Hierna het die sluise oopgegaan en vandag is daar min produkte wat nog nie op ‘n T-hemp gepryk het nie.
Van my kosbaarste hemde, wat ek stééds dra, is meer as 30 jaar oud. Ons span by Radio Oranje het destyds heelwat hempies laat maak om die nuwe radiostasie bekend te stel. Daar was selfs ‘n draakstekery met die naam toe ons oranje lemoene op ‘n blou T-hemp laat druk het.
My versameling sluit ‘n I love NY-hempie in, wat ek jare gelede langs Central Park vir vyf dollar (net sewe rand destyds) gekoop het. Daar is die Born To Be Wild-hemp wat ‘n vriend uit Praag saamgebring het. My Je Suis Albé-hempie het die kinders spesiaal in Frankryk laat maak.
My M*A*S*H-hemde en later die Breaking Bad-reeks het ek self “ingevoer” deur Amazon. Daar’s my Buffalo Rally-hemde. Ek het T-hemde met prentjies wat wissel van Che Guevara en Samora Machel se gesigte, tot die witwaterskuit waarmee ons die Zambezi aangedurf het.
Onlangs eers ontdek ek dat ‘n ou T-hemp nuwe lewe kry as jy die materiaalprentjies versigtig uitknip en op ‘n enerskleurige nuwe hempie laat vaswerk.
Ek kan nie glo dat daar mense is wat T-hemde weggooi nie.

– ALBÉ GROBBELAAR