SVS vertoon puik op tussenprovinsiale tweekamp

0
717
Alex Klopper FOTO: UIPM

Suid-Vrystaat-atlete het Saterdag op ‘n tussenprovinsiale tweekampbyeenkoms wat in die Rosestad beslis is, met skitterende vertonings vorendag gekom. Nie minder nie as vier van die provinsie se atlete het oorwinning gesmaak én meer as 2200 punte vir hul pogings verdien.

Lienke Snyman het volgens die punte-tabelle die beste vertoon onder die Suid-Vrystaters deur net-net kort van die 2300 punte-kerf te draai. Sy het 2293 punte opgestapel om die afdeling vir meisies o.15 te wen toe sy aanvanklik die 1000m-hardloopskof in ‘n kookwater 3:17,54 kafgedraf het en daarna die 100m-swem in 1:11,94 afgelê het.

Sy moes egter uithaal om die naaswenner en haar spanmaat, Alida van der Merwe (2271 punte), in die tweede plek in te dwing. Van der Merwe het weliswaar nie veel teenstand gebied in die hardloopskof (3:32,38) nie, maar haar swemskof van 1:06,70 was uit die boonste rakke.

Nog ‘n Suid-Vrystater, Monique Davidson (2209 punte), het in ‘n goeie derde plek geëindig.
Daar is nie einde aan die energieke Alex Klopper nie. Sy het twee weke gelede die wêreldtitel in haar ouderdomsgroep in biathle verower en Saterdag was sy weer vlymskerp. Sy het die afdeling vir meisies o.13 met ‘n uitmuntende puntetotaal van 2256 haar eie gemaak. Klopper het 3:39,16 (1000m) gehardloop en met ‘n haastige 1:09,86-swemskof losgetrek.
Sy het Kayleigh Geel (Noordwes, 2202 punte) en Lizri Weyers (SVS, 2189 punte) gerieflik in die tweede en derde plekke ingedwing.

Mizan Viljoen word nie maklik geklop in tweekamp nie. Dit het sy weer bewys deur die afdeling vir meisies o.19 te wen met 2200 punte. Sy het die onderskeidelik tweede en derde atlete, Charné Viljoen (SVS, 2058 punte) en Nicole Lutjens (SVS, 1815), ver agtergelaat.

Henro Bender was die enigste Suid-Vrystater onder die manne wat ‘n oorwinning met meer as 2200 punte kon smaak. Hy het die afdeling vir seuns o.17 maklik met 2207 punte gewen en sodoende sy spanmaat, Ettiene Beckman (2058 punte), en Jaco Nel (Oostelike Provinsie, 1983 punte) maklik op hul herrie gegee. – RUFUS BOTHA