Storiesmous: Ouderdom nie speletjies

0
590
Daar is baie tekens op die lewenspad wat wys dat die tyd aanstap.

“Ouderdom is nie speletjies nie!” Ek het hierdie uitdrukking oor die jare dikwels spottenderwys gebruik.
“Jy sal sien as jy eers 40 is,” sou ek dan byvoeg. Later moes ek dit opskuif. En toe weer ‘n keer. “Jy sal sien as jy eers 60 is. . .”
Dit is telkens soos ‘n emmer koue water as jy gekonfronteer word met hoe die wêreld na mense van jou ouderdom verwys. Soos wanneer jy ‘n koerantberig lees oor die een of ander “bejaarde” egpaar wat iets oorgekom het, en dan besef dat hulle jonger as jy is.
Ek praat nie eens van die daaglikse koorsagtige geblaai na die doodsberigte toe om te sien of die afgestorwenes darem ouer as jy was nie. En die skok soms as ‘n hele paar van hulle ná jou gebore is.
Daar is baie tekens op die lewenspad wat wys dat die tyd aanstap. ‘n Pyn hier en ‘n skeet daar. Aanvanklik ignoreer jy dit. Jy maak selfs grappies daaroor.
“Ons is nou in die voorste linie,” sal iemand op die begrafnis van ‘n ouer persoon sê. Maar jy wil dit nie regtig glo nie. Ander mense word oud, nie jy nie.
Ek het ‘n paar jaar gelede ‘n vreemde ervaring gehad. Ek het na ‘n episode van die televisiereeks Suits gesit en kyk. Die spesifieke toneel het oor die dood van die pa van die hoofkarakter, Harvey Specter, gehandel.
Ek het my nog altyd ingeleef in die wel en weë van die vele silwerdoekkarakters met wie ek so maklik identifiseer. Hierdie keer was geen uitsondering nie. Ek het Harvey se hartseer gedeel.
En toe, eensklaps, het dit tot my deurgedring dat iets nie dieselfde was nie. Anders as so dikwels vantevore in verhale waar ‘n pa sterf, was ek nie meer die seun wat sy vader verloor nie. Skielik was ek die pa. Die karakter Harvey was nie ek op my pa se begrafnis nie. Harvey het my seuns op my begrafnis verteenwoordig. Dit het my diep geraak.
Ouderdom is nie speletjies nie. Jy sal sien as jy eers 60 is. – Albé Grobbelaar