Storiesmous: Fabel van die fluitspeler

0
94

Min mense sou van die dorpie Hamelin in die noordweste van Duitsland geweet het as dit nie vir die fabel oor die fluitspeler was nie.
Die storie kom uit die vroeë Middeleeue toe ‘n vernietigende rotteplaag op die dorp uitgebreek het. Op ‘n dag daag daar ‘n fluitspeler op en, met sy betowerende musiek, lei hy al die rotte tot in die Weserrivier waar hulle verdrink. Toe die burgemeester weier om hom te betaal, neem hy wraak en doen dieselfde met die dorp se kinders.
Oor die jare is hierdie sprokie, met verskillende eindes, deur talle skrywers opgeteken, onder andere ook Goethe en die Broers Grimm.
Nou vertel my sussie hoe sy onlangs by hul sitkamer verbystap terwyl haar man hierdie storie vir hul kleindogter vertel. Swaer Louis het ‘n wonderlike verbeelding en klein Caratjie hang aan Oupa se lippe.
Met woeste handgebare en slop-slop-slukgeluide beskryf hy hoe die vieslike vuil water in die vlooibesmette muise se kele afloop terwyl hulle hulpeloos hoes en rondspartel. Hy trek al by die vrolike kindertjies wat fluit-fluit op pad rivier toe is agter die oom aan, toe my sussie besef: Hier kom moeilikheid. Caratjie, met haar klein hartjie, sal nóóit die kinders van Hamelin se tragiese einde kan hanteer nie.
Sy sluip saggies agter Cara se rug by die deur in. “Jy – kan – nie – dat – die – kinders – doodgaan – nie,” beduie sy. Sonder om selfs te “double take” gaan Swaer Louis aan. “Toe kom hulle by die kant van die dorp by die mooiste grasperk onder sulke groot, groen bome uit.”
“En toe Oupa?” vra Cara. “Toe sê die oom vir hulle: ‘Is julle lus vir ‘n piekniek?’ En toe skree almal: ‘Ja Oom!’ Toe blaas die oom op sy fluitjie, en raai wie kom agter die bome uit?” Cara se mond hang oop. “Niemand anders nie as MICKEY MOUSE!” Cara is sprakeloos. “En weet jy wat het hy al die tyd agter sy rug weggesteek?” Cara se oë is pierings. “‘n Groot sak met genoeg Eskimo Pies vir almal.”
Goethe en die Grimms kan gaan slaap. – Albé Grobbelaar