Storiesmous – 9 Februarie 2017

0
337

“Die Mooiste Kinderstories van die Wêreld” was die opskrif van die heel laaste afdeling in die ou Afrikaanse Kinderensiklopedie. Volume 10. Ek sal dit nooit vergeet nie. As klein seuntjie het ek hierdie verhale verslind. Vir ‘n plattelandse kind in die 1950’s het dit ongekende nuwe horisonne oopgemaak.
Onlangs, na ‘n lang soektog, spoor ek weer die volle reeks op, al tien volumes wat destyds op soveel boekrakke gestaan het. (Dankie, Dawie Laas.) En met die deurblaai van Volume “X” kom die stories terug. Ek onthou nog elke prentjie, elke illustrasie asof dit gister was. En ek sien visioene van hoe ek die stories in ‘n atlejee gaan opneem vir my kleinkind. Sy is nou amper oud genoeg.
Een van my gunstelinge was Bloubaard. Hierdie woeste wreedaard het mos ‘n geheime kamertjie in sy paleis gehad, waar sy vrou nooit toegelaat is om in te gaan nie. En toe is sy te nuuskierig. Toe hy weg is op ‘n “sakereis”, toe vat sy die klein sleuteltjie en sluit oop. En agter daardie toe deur wag die grootste skok van haar lewe. En Bloubaard sien met sy terugkoms die bloed aan die towersleuteltjie. En hy weet sy het sy bevele verontagsaam. Sy hoop haar broers gaan betyds wees om haar te kom red. Terwyl Bloubaard sy groot swaard slyp, roep die angsbevange vrou na haar suster in die toring: “Suster Anna! Suster Anna! Sien jy nog niks aankom nie?”
Daar is ‘n reuseverskeidenheid verhale uit ‘n magdom lande. Naas alombekende sprokies en fabels soos Rooikappie, Doringrosie, Die Gestewelde Kat, Pandora se Kissie, Aladdin en Repelsteeltjie, is daar ook minder bekendes. Onthou jy nog Die Boerseun en die Reusevrou? Of Die Nooi met die Bokgesig? Wat van Die Vrou Wat So Baie Gepraat het? Of Die Verstandige Boer en sy Nuuskierige Vrou?
Ek sal dalk maar so hier en daar moet aanpassings maak voor ek die stories vir my kleindogter voorlees. Die rol van vrouens het nogal verander sedert destyds. En ‘n verhaal soos “Waarom Die Neger Swart Is” sal ek maar liewers heeltemal uitlaat.