Storiesmous – 8 Desember 2016

0
296

Ons het dit almal destyds in die Army gedoen. As jy by die huis wou kom, het jy nie ‘n keuse gehad nie. Ryloop. Duimry. Duimgooi. Haaik. (Ek het eers later besef “haaik” kom van “hitch-hike” af.)
Op Lenz daar langs Lenasia waar ek basies gedoen het, is dit by ons ingedril dat ‘n soldaat in uniform nie sy duim oplig langs die pad nie. Jy staan net daar in jou bunny jacket, baret op die kop, balsak op die grond, en jy kyk vorentoe. Dan stop die karre en laai jou op. Vir Volk en Vaderland. En die tannies koer oor jou dapperheid en jou mooi uniform. “Was jy al op die Grens?” sou hulle vra. En sommer in dieselfde asem: “Dé Boetie, jy’s seker honger,” terwyl hulle koue frikkadelle en toebroodjies aangee.
Die grootste skrik in my hele lewe het met so ‘n ryloopgeleentheid gekom. Die verlange na my meisie op Vryburg was net té groot en ek het ge-AWOL. Ek is sonder ‘n naweekpas een Vrydagnag deur ‘n gat in die kampdraad waarna ek kilometers ver deur ‘n veld gestrompel het om by die hoofpad te kom. Ek was doodbang vir die MP’s wat my in die DeeBee sou smyt, daardie Army-tronk waar jy net ‘n onderbroek en ‘n Bybel toegelaat is.
Skaars gestaan of ‘n groot Chev trek af en laai my op. Vriendelike mense van Pretoria af. Hulle kan my tot op Potch vat. Die oom is stil, maar die tannie praat land en sand. Ek begin ontspan en in die veilige, koesterende warmte van die kar oorval ‘n groot behoefte my om te bieg. Ek het al my asem ingetrek om te vertel dat ek nie ‘n pas het nie, en hoe ek na my meisie verlang. Toe sê die tannie van voor af: “Die Oom is ook in die Weermag.” Ek skrik my in ‘n ander bloedgroep in. “Hy’s Sammajoor op Voortrekkerhoogte.”
Nee, hy’t nie my pas gevra nie. Maar ek was tjoepstil (en yskoud) tot in Potch. En ek het nooit weer ge-AWOL nie.