Storiesmous – 18 Augustus 2016

0
466

’n Mens kan die hele wêreld leer ken deur musiek. Elke taal lewer liedjies op oor plekke wat vir sangers en liedjieskrywers spesiaal is. Soms is dit ’n streek, by ander ’n dorp of stad. Tony Bennett het sy hart verloor in San Francisco. Vir Sinatra is dit die Groot Appel. “If I can make it there, I’ll make it anywhere, It’s up to you New York, New York”. As ek aan Engelbert Humperdinck dink, sien ek voor my geestesoog daardie meisie wat wakker word en wonder waar die man heen is. “By the time I get to Phoenix she’ll be rising, She’ll fi nd the note I left hanging on the door”. Daai girl moes lelik met hom gemors het, want hy wil so ver as moontlik wegkom. “By the time I make Alberquerque she’ll be working.” Al verder en verder. “By the
time I reach Oklahoma she’ll be sleeping…” Afrikaans staan nie ’n tree terug nie. Koos Doep bly my gunsteling. “Pretoria, jakarandastad, die tyd gaan gou verby, en daardie jare lê soos ylblou berge agter my.” Of David Kramer. In sy liedjie Montagu leer ’n mens sommer ’n hele streek ken. Nie net Montaguu-u-u-u-u-u met sy muskadel nie, maar ook Barrydale, Bonnievale en Ladismith. En dan sing hy nog van die Kogmanskloof, die Outeniquas en die sneeu op die Tradouxspas ook. Die lys is lank. Sal ons ooit die liedjies wat ons toeka in skoolkore gesing het, vergeet? “Ek hou van jou, vaal ou Karooland, van Kaap tot Oranje se wal. Ek sing van die boomryke Boland, van Vrystaat, Transvaal en Natal; maar
liewers van jou, ou Karooland, want jou min ek ver boweal!” Of die wilgerboom daar in ou Potchefstroom. En dan Hot Gates. Geen gesprek oor plekname in musiek kan volledig wees hiersonder nie. Ek het Chris Torr en Laurika se liedjie onlangs met my studente probeer behandel. Daar word nie minder nie as 58 plekke genoem. Pyn, wreedheid, tragedie. Maar dan die aangrypende kontras aan die einde: “There’s another city I’ve been told, Where the streets are paved with gold.”

Albé Grobbelaar