Storiesmous – 12 Januarie 2017

0
236

Op laerskool moes ons altyd in Januarie, net nadat die skool begin het, ‘n opstel skryf oor ons “wedervaringe” tydens die vakansie. Toe dag ek by myself, hoekom nie na al die jare dit weer doen nie?
Ons was by die see. Cintsa. Die paradys. En ons hét gekuier. Van die kinders was op ‘n streep daar. En Katie. My enigste kleinkind, Katie, het almal om haar pinkie gedraai. Sy lag heeldag as sy by Oupa is.
In die aande het ons Seinfeld gekyk. Tog verstommend hoe tydloos Jerry, George, Elaine en Kramer se eskapades is. En dat daar ‘n TV-reeks kan wees wat my Millennium-laatlam van 15 net soveel soos sy pa geniet. Nadat die kinders weg is, het ek natuurlik ook daagliks ‘n paar M*A*S*H-episodes deurgewerk. En tussen my trane deur alleen een aand ‘n glasie geklink op die geliefde priester, Father Mulcahy, toe ek hoor dat hy op Oujaarsdag dood is. (Nie hy self nie, in M*A*S*H sal hy vir altyd lewe. Die akteur wat hom veertig jaar gelede vertolk het, William Christopher, is op 31 Desember oorlede.)
Het ek al vertel van my kleinkind, Katie, wat ook by Oupa kom kuier het?
Natuurlik het ek ge-“shop” ook. Die musiekwinkel het ‘n 3 vir R99-special op CD’s gehad. Ek het dubbeld gegaan. Chet Baker, Engelbert Humperdinck, Bob Dylan, Duke Ellington, Albert Hammond en toe sommer Debussy se Greatest Hits ook. En by die Kersmark wat elke jaar in Cintsa se parkie gehou word, kry ek The Illustrated Herman Charles Bosman tweedehands vir R70. Heerlike herontdekking.
Ons het elke dag gaan stap, verskillende roetes, gemiddeld tussen 8,2 en 10,4 km. Ek meet dit presies met ‘n GPS-app op my foon. ‘n Mens moet rekord hou van jou oefening. Die een dag saam met vrinne het ons sommer 21,7 km gedoen. Al met die Wildekus se uitgestrekte, ongerepte strande langs. ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees. (Dis ook ‘n uitdrukking uit my laerskooldae.)
Dit was ‘n wonderlike vakansie gewees. Het ek genoem dat my kleinkind, Katie, ook kom kuier het?