Storiesmous – 1 September 2016

0
440

“SKURKE GEVANG!” So lees die hoofopskrif op die voorblad van die Ficksburg Times. “Die gewetenlose skurke wat die geiser by David’s Place gesteel het, is in hegtenis geneem.” ‘n Mens kan byna hoor hoedat die hele dorp ‘n sug van verligting slaak. Maar die storie het nie ‘n gelukkige einde nie. Die geiser is teruggevind, “maar erg beskadig”. “Teen druktyd,” skryf die redakteur, “was dit nog onseker of dit ooit weer gebruik sal kan word.”
Jy moet nooit die waarde van plattelandse koerante onderskat nie. In ‘n ander dorp se nuusblad is daar die storie van Tannie Baby Steenberg wat “geval en haar heup gebreek het”. Die predikant word ook betrek: “Ds. Jan vra dat almal Tant Baby in hul gebede moet dra.”
Die lief en leed van die platteland word dikwels op eg persoonlike wyse weerspieël in hierdie koerante. In die Aliwal Weekblad lees ek dat mev. Minnie Pieterse vir ondersoeke in die hospitaal was. “Gelukkig,” lui die berig, “was daar niks groot fout nie en is sy weer haar vrolike en vriendelike self.”
Hier is nog opskrifte: “Vinnige Vingers Hou Kunsklas by Goggabi.” Of hierdie een uit Di Skoorsteenki op Paul Roux: “Daar IS ‘n d*** in die drinkwater.” Net so.
In The Barkly East Reporter word berig oor ‘n motorongeluk. “Iemand het Vrydagnag probeer om die teken op die eiland voor die NG Kerk uit te ry,” skryf die redakteur, “maar hy het duidelik nie rekening gehou met die vakmanskap toe dit jare gelede geplant is nie.” En dan effe leedvermakerig: “Hy het baie sleg tweede gekom en dele van sy voertuig was Sondag nog sigbaar op die toneel.”
Dis nie speletjies om ‘n koerant uit te gee nie. Soveel te meer nog as jy dit stoksielalleen op ‘n klein plattelandse dorpie doen waar daar min geld en geen hulp is nie. Ek haal my hoed af vir hierdie sout-van-die-aarde joernaliste wat week ná week daarin slaag om vir hul gemeenskappe ‘n wonderlike produk, al is dit soms net ‘n paar A4-bladsye, op die rakke te hê.

Albé Grobbelaar