Stander wen Urban Trail-wedloop gerieflik

0
2715
Sebastian Stander (links) maak net ná die wegspring reeds die pas warm by die Urban Trail-wedloop wat Saterdag in Langenhovenpark beslis is. Langs hom is die 12-jarige Lean Uys wat die algehele tiende plek ingeneem het en agter hulle is Ricus Cox (links) en Wesley Field wat onderskeidelik agtste en vierde klaargemaak het. Altesaam 204 atlete het die wedloop voltooi. FOTO: REBLEX PHOTOGRAPY

Sebastian Stander het Saterdag tydens die eerste AfriAdventures Urban Trail-wedren goed kopgehou om die spreekwoordelike berge en dale van Langenhovenpark in Bloemfontein gerieflik baas te raak en met bykans ‘n minuut te seëvier.

Die wedloop, wat meer as 200 deelnemers gelok het, het by Pretty Gardens begin én geëindig, en is oor 7km beslis. Die konsep van dié wedloop was anders as waaraan atlete in Trail-wedlope in Bloemfontein gewoond is.

Atlete het vooraf ‘n roetekaart ontvang wat hulle kon volg, maar hulle kon ander roetes (langer) aanslaan indien hulle gevoel het dit was makliker. Maar, hulle moes by verskeie kontrolepunte aandoen alvorens hulle die wedloop amptelik kon voltooi.

Daar was van die deelnemers wat van die kontrolepunte misgeloop het en weer moes terughardloop om hul regmerkie by die onderskeidelike kontrolepunte te kry.

Stander het ‘n mooi tyd van 33:11 op die uitslagkaart ingevul en het sodoende die tweede atleet, Henri Knoble (34:03), maklik geklop. Adrian Nel (34:03), wat saam met Knoble oor die eindstreep gedraf het, was derde.

Die 12-jarige Lean Uys van die Laerskool Grey-kollege het ‘n puik wedloop kafgedraf en het die algehele tiende plek in 43:44 losgehardloop. Hy het ná die wedloop aan Courant gesê:

“Dit was taai, en ek het boonop drie kontrolepunte gemis waar ek moes terughardloop en baie tyd verloor het.”

Onder die skoner geslag het Juandi van Sandwyk die septer geswaai in 46:26. Sy is gevolg deur Corna Smith (47:59) en Michelle van Niekerk (48:05).

Dit was verrassend om te sien dat twee van Suid-Afrika se voorste vroue sportlui ook deelgeneem het. Elsabe le Roux, een van die land se voorste karateka, het 53:47 aangeteken en die Protea-netbalkaptein, Maryke Holtzhausen, het in 1:03:07 oor die eindstreep gehardloop.

Morgan Piek, sportredakteur van OFM en Courant, het self sy man gestaan in die wedloop en het ná die tyd aan Courant gesê: “Moenie jou laat flous deur te dink Langenhovenpark is plat

nie. Die koppies wat ons moes baasraak, was beslis nie ‘n man se maat nie. Dit was egter ‘n interessante wedloop en ek het dit geniet,” het hy bygevoeg. – RUFUS BOTHA