SPU bereik ooreenkoms met studente

0
231

Klasse by die Sol Plaatje-Universiteit (SPU) in Kimberley sal Maandag weer hervat word. Dit kom nadat ‘n ooreenkoms vandeesweek met die studenteraad bereik is. Visekanselier, Yunus Ballim, sê alle betrokkenes het ‘n positiewe benadering gehad, waarna die SPU se topbestuur en studenteleiers ooreengekom het dat al 700 studente  nie verantwoordelik gehou gaan word vir ‘n verhoging in klasgeld, asook verblyfgeld, vir volgende jaar nie.

Ons verwag dat al ons studente volgende jaar in die groep gaan val met ‘n huishoudelike inkomstestaat van minder as R600 000 per jaar. Hierdie studente se verhoging in klasgelde sal deur die staat gesubsidieer word. Hy sê daar is ooreengekom dat enige bykomende bydraes tot dié verhoging van die staat aangewend sal word vir studente wat nie vir beurse kwalifiseer nie. Daar is ook besluit om merietebeurse aan presterende studente toe te ken, wat volgende jaar hul kursusse slaag.

Ballim sê SPU gaan alles moontlik doen om tyd wat verlore gegaan het in die #FeesMustFall-veldtog in te haal. Dit kom nadat akademiese aktiwiteite sedert verlede week op die kampus gestaak is, terwyl personeel met hul werk voortgegaan het.   Die universiteit hersien klas-en eksamenroosters om te verseker dat die akademiese program teen die einde van die jaar voltooi word.  -Christal-Lize Muller