Spar-motorfietsryers verras Vereniging vir Blindes

0
828
Lede van Spar Motorcycle Owners Group en die eienaars van Baysvillage Kwikspar, Callie Grobler, en sy seun, Roux, het Vrydag 'n tjek van R10 000 aan Abrie de Vos en Magrita de Wet van die Vrystaatse Vereniging vir Blindes oorhandig. FOTO: MARICELLE BOTHA

Die Vrystaatse Vereniging vir Blindes het Vrydag ‘n onverwagse meevaller ontvang toe ‘n groep motorfietsryers uit die noorde ‘n tjek van R10 000 aan hulle oorhandig het.
Toe die eienaar van Baysvillage Kwikspar, Callie Grobler, en sy seun, Roux, hoor die Spar Motorcycle Owners Group (SMOG) is op hul ysterperde na Gariepdam op pad en dat hulle graag by dié Spar wou stop om ‘n tjek aan ‘n liefdadigheidsorganisasie van die Groblers se keuse te oorhandig, was dit nie nodig om twee keer te dink nie.
Abrie de Vos, voorsitter van die Vereniging vir Blindes, is ‘n groot ondersteuner van Baysvillage Kwikspar en die Groblers het dadelik besluit om dié vereniging te nomineer as begunstigde.
Kobus van der Merwe, president van die SMOG, sê die klub bestaan uit Spar-eienaars, werkers, familie en vriende. “Elke keer as ons vir ‘n naweek weggaan, sorg ons dat ons in ‘n dorp by ‘n Spar-winkel stop en iets vir liefdadigheid doen. Siende dat Callie en ek in dieselfde divisie as eienaars werk en groot pelle is, het ons besluit om hier by sy winkel te stop.”
Magrita de Wet, maatskaplike werker van die vereniging, sê hulle is oneindig dankbaar vir die skenking en dat die Groblers hulle as begunstigdes genomineer het. “Hierdie geld sal ons help om van ons beplande projekte vir dienslewering aan die gemeenskap te realiseer.”
Die vereniging is tans besig met ‘n Strooitjie-projek waar armbandjies wat in die donker gloei, teen R5 verkoop word. Die gedagte hier rondom is om dat ‘n mens selfs kan ‘gloei’ ten spyte van ‘n gebrek soos blindheid. Hiermee word ‘n positiewe lewensuitkyk benadruk.
Die ander projek is die Guardian-projek, waar lede van die publiek ‘n blinde persoon kan aanneem deur elke maand ‘n donasie van R100 aan die vereniging te skenk, wat dan sal help om voedselsekerheid te bevorder.
Vir meer inligting oor die vereniging of enige projekte, skakel 051-447-6934. – Maricelle Botha 
maricelle@centralmediagroup.co.za