Solidariteit reik uit na graad 1’s

0
1162
Die groep barmhartige samiritane wat betrokke was by die skooltassieprojek.

Solidariteit Helpende Hand-lede het weer eens bewys hul hande staan vir niks verkeerd nie.
Die Vrystaat-streek van hierdie organisasie het op Saterdag 25 November bymekaargekom en het byna 500 tassies gepak wat aan 22 skole in die streek afgelewer sal word. “Hierdie is altyd ‘n hoogtepunt vir ons vrywilligers en soos gewoonlik was dit ‘n groot sukses,” sê Kobus Venter, streeksorganiseerder in die Vrystaat.
Die Skooltassieprojek is ‘n nasionale projek van Solidariteit Helpende Hand waardeur reeds ongeveer 30 000 tassies aan behoeftige graad 1’s geskenk is sedert die projek in 2007 van stapel gestuur is.
In 2017 is daar ‘n ongeveer 4 600 tassies regoor die land uitgedeel terwyl die organisasie beoog om nog 5 000 in Januarie 2018 uit te deel.
“Helpende Hand poog om ‘n goeie kwaliteit tassie, wat sowat vyf jaar sal hou, met opvoedkundige inhoud van hoë gehalte aan graad 1’s te verskaf. Die inhoud van die tassies sluit onder meer draaikryte, ‘n legkaart, inkleurpotlode, grys potlode, ‘n liniaal, skerpmaker, skêr, uitveër, gom, in pennesakkies en witbord met penne,” sê Venter.
Die aankoop van die tassies word gefinansier deur ondersteuners wat maandelikse ‘n bydrae lewer tot die verskeie projekte. Indien jy wil betrokke raak vir so min as R50 per maand, kontak gerus vir Kobus Venter by kobus@helpendehand.co.za.
“Die projek poog om ‘n onmisbare bydrae tot kinders se lewens te maak en behoeftige graad 1’s in staat te stel om hul skoolloopbaan op gelyke voet met hul klasmaats te begin.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za