Seven groet Kim ná 13 jaar

0
2697
Die nuwe eienaars van Seven Restaurant, Charisa en Francois Koekemoer, het onlangs afskeid geneem van die voormalige eienaar, Kim Brackenridge (regs), tydens die viering van dié restaurant se jare lange sukses. FOTO: MARICELLE BOTHA

Dertien jaar gelede het ‘n baie amibisieuse Cordon Bleu-sjef na Bloemfontein teruggetrek en ‘n restaurant op die been gebring wat later ‘n kulinêre instelling in die Rosestad sou word.
Bekende plaaslike sjef en restaurateur, Kim Brackenridge, was destyds maar 25 jaar oud toe sy van Brittanje af teruggekeer het om Seven Restaurant (die eertydse Seven on Kellner), te begin. Ná meer as ‘n dekade en met ‘n string toekennings agter haar naam, groet Brackenridge Bloemfontein wanneer sy volgende maand na Stellenbosch verhuis.
“Dit was regtig nie ‘n maklike besluit nie. Dit het my vier tot vyf jaar geneem om uiteindelik my lewe in Bloem prys te gee sodat ek ‘n nuwe uitdaging in die Wes-Kaap kan aanpak,” vertel sy.
Sy sal op 1 September by Stellenbosch Wild Peacock Products begin. Hier sal sy sjefs van tophotelle en -restaurante van Wild Peacock se luukse ingevoerde en plaaslik vervaardigde produkte leer en hoe om dit optimaal te gebruik. Voor sy daar begin, gaan sy eers ‘n rukkie in Zanzibar rus.
Nadat Brackenridge destyds klaar gestudeer het aan die Silwood School of Cookery in Kaapstad, het sy ‘n vir jaar in Londen gewerk en daarna vier jaar lank op Brittanje se Kanaal-eilande, voordat sy na Suid-Afrika teruggekeer het. Seven het sy deure amptelik op 1 Desember 2003 geopen.
Brackenridge sê die geregte wat oor die jare deel van Seven se spyskaart uitgemaak het, is kos waarvan sy hou om self voor te berei en te eet. Dit is nie een styl nie. Sy vertel haar kookstyl is oor die jare geweldig baie deur haar wêreldreise beïnvloed en daarom sal restaurantgangers veral sterk Mediterreense en Noord-Afrikaanse invloede in haar kos opmerk.
In retrospek, sê Brackenridge, moes sy destyds seker dom-astrant gewees het om op 25-jarige ouderdom die moed te gehad het om haar eie restaurant te open. Sy sê sy was nog altyd onafhanklik en ‘n bietjie dapper. “Selfs die groot verandering wat nou vir my voorlê, vat baie waagmoed.”
Een van die groot lesse wat sy oor die jare geleer het, was hoe om met die publiek en met haar personeel te werk; iets wat jy nie noodwendig tydens jou voorgraadse kwalifikasie leer nie.

“Behalwe natuurlik my familie en my getroue klante, sal ek die kameraadskap van ander plaaslike restaurateurs mis.”

Vir hul ondersteuning en vriendskap deur dik en dun, sal ek altyd dankbaar wees.”
Dr. Francois Koekemoer en sy dogter, Charisa, is die nuwe eienaars van Seven. Charisa, wat die restaurant sal bestuur, het reeds in Julie saam met Brackenridge begin werk om die besigheid beter te verstaan.
Francois sê hy glo Brackenridge het ‘n wenresep met Seven gehad en hulle hoop om op haar naletenskap voort te bou en te verbeter. Hy vertel ook dat klante in die toekoms kan uitsien na wyn-, bier- en whisky-proesessies en miskien musiekoptredes op ‘n Vrydagmiddag. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za