Ses binnekort in hof weens Bloemspruit-moorde

0
299
Ses mans wat gister in Bloemspruit in hegtenis geneem is in verband met die moorde op twee mans, sal na verwagting môre in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Polisiewoordvoerder, Peter Kareli, sê die verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 32 is in Fase 9 by ‘n plakkershut aangekeer. Dit was ure nadat ‘n man se lyk gister in die vroeë oggendure in ‘n straat in dieselfde uitbreiding met ‘n steekwond aan die nek gevind is.

Volgens Kareli is ‘n 32-jarige man, wat op pad huis toe was in dieselfde uitbreiding, gisteroggend aangeval. Hy het na sy huis gestrompel en voor sy kombuisdeur ineengestort.

Die polisie in Bloemspruit het inligting opgevolg en toegeslaan op ‘n huis in Fase 9. Die verdagtes was in die huis en daar was bloed aan hul klere. Hy sê daar is ook op vyf messe beslag gelê. Daar was bloed aan die messe.

Kareli sê die polisieondersoek duur voort. In dié stadium kan die verdagtes nie verbind word met die moorde op twee mans van Bloemspruit en die moord op ‘n vrou oor die naweek nie. Hy sê ‘n ander man se lyk is Saterdagoggend ook in Fase 9 in die straat gevind, terwyl nog ‘n lyk van ‘n ander man daarna ook in ‘n straat in Fase 10 gevind is.

‘n Vrou se lyk is Saterdagoggend in Grasslands gevind. Sy het twee steekwonde aan die kop gehad. Die oorledenes se name is nog nie bekend nie.   – Christal-Lize Muller