Sannies hou weer entrepreneursdag

0
535
Kimberley Julius van die Hoërskool Sand du Plessis se Crispy Delights-stalletjie het verlede jaar groot aftrek gekry.

Dit is eersdaags weer tyd vir die Hoërskool Sand du Plessis se jaarlikse entrepreneursdag. Vanjaar word die dag vir die sestiende jaar keer in samewerking met TWIZZA aangebied. Die tema vir die dag is: Integriteit kweek sukses, en die doel is om leerders aan te moedig om na aktuele sake te kyk en omliggende toestande in ag te neem.

Willem du Buisson, skoolhoof van die Hoërskool Sand du Plessis, sê die skool sien weer eens uit na nuwe en kreatiewe idees van sy leerders. “Dit is ons plig om ons jeug voor te berei vir die kompeterende arbeidsmark. Entrepreneurskap en vaardighede is van kardinale belang om leerders ’n staanplek te gee in die ekonomiese toestand waarin ons land hom bevind.”

’n Span onafhanklike, kundige beoordeelaars en sakelui sal op ’n deursigtige wyse en volgens vooraf bepaalde kriteria leerders se aanbiedinge evalueer, beoordeel en wenners aanwys. Deelnemers sal ook met advies bedien word.

Die sukses van hierdie projek berus op die ondersteuning en entoesiasme van die omliggende gemeenskap, lojale besigheidsborge, onderwysers wat leerders motiveer en aanmoedig om deel te neem en bowenal, leerders wat hul talente ten toon stel. Die projek het geen winsoogmerk nie – behalwe vir leerders wat hul entrepreneursvaardighede en kreatiwiteit aanbied en die wins mag hou.

Toegang vir nie-uitstallers/besoekers/publiek is gratis. Die dag is oop vir die publiek en alle belangstellendes word hartlik uitgenooi om die dag se verskeidenheid vermaak te kom geniet. Heerlike verversings en lekkernye word te koop aangebied in die teetuin waar gaste en besoekers kan kuier nadat hulle die kreatiewe uitstallings van jong entrepreneurs besigtig het.

Die sluitingsdatum vir inskrywing is 1 Maart 2017 om 12:00. Die verrigtinge begin stiptelik om 08:00 op 3 Maart 2017 en uitstallings sluit om 12:00. Die prysuitdeling volg kort ná die sluiting van die uitstalruimtes.

Vir enige navrae kan die Hoërskool Sand du Plessis gekontak word by 051-522- 4071, Sanmarie Maritz by 084-512-4034, of u kan ’n e-pos stuur na kobie@sannies.co.za.