Sampioene, van fynproewerskos tot veevoer

0
138
Van die UV se Departement Mikrobiese, Biochemiese en Voedselbiotegnologie is, van links: prof Bennie Viljoen, navorser, MSc-student Christie van der Berg, en PhD-student Christopher Rothman. Foto: Anja Aucamp

Sampioene het soveel medisinale toepassings dat mense ’n bestanddeel byderhand het wat ‘n lang en gesonde lewe bevorder. Dit is ook nie net mense wat baat vind by hierdie makrofungi wat meestal in donker ruimtes groei nie.

“Die substraat wat vir die kweek van sampioene gebruik word, kan as veevoer aangewend word. Al die medisinale waarde word ongeskonde behou en word dan gebruik om aan bokke as ’n aanvulling tot hulle daaglikse dieet gevoer te word,” het prof Bennie Viljoen, navorser in die Departement Mikrobiese, Biochemiese en Voedselbiotegnologie aan die UV, gesê.

“Die hele sampioenprojek het twee jaar gelede begin as ’n byproduk uit nuuskierigheid om eetbare fynproewersampioene vir my eie gebruik te kweek. Ek was ook gefassineer deur ’n vriend wat hierdie sampioene in gedroogde vorm geëet het om sy immuunstelsel te ondersteun en beweer het dat hy nooit siek word nie. Die byproduk het vinnig verander toe ons die interessante wêreld van sampioene ontdek en nagraadse studente betrokke geraak het.

“Sedert daardie nederige begin het ons met geldelike hulp van die Kantoor vir Tegnologie-oordrag vinnig uitgebrei tot ’n klein onderneming sonder enige afval,” het prof Viljoen gesê. Die navorsingsgroep het ook talle medewerkers in die bedryf, met volle ondersteuning van ’n nutraseutiese maatskappy, ’n dierevoedingsmaatskappy en ’n sampioenkwekersvereniging.

Prof Viljoen en sy span se sampioennavorsing bestaan uit verskeie aspekte.

“Ons kweek fynproewersampioene op landbou-afval onder gekontroleerde omgewingstoestande om die smaaklikste moontlike eetbare sampioene te behaal. Hierdie groep sampioene bestaan uit die Koning, Pienk, Goue, Grys, Blou en Bruin Oesters. Behalwe vir die navorsingsresultate wat ons behaal het, word hierdie deel hoofsaaklik deur die nagraadse studente beheer wat dit as ’n onderneming bestuur met die doel om in die winste uit oortollige sampioene te deel omdat hulle nie navorsingsbeurse het nie. Die sampioene word oor naweke aan restaurante en voedselmarkte verkoop,” het prof Viljoen gesê.

“Die tweede navorsingsentiteit behels die kweek en aanwending van medisinale sampioene. Deur die geskiedenis heen is sampioene as ’n natuurlike alternatief vir die behandeling van verskeie siektes gebruik. Deesdae is makrofungi bekend as ’n bron van bioaktiewe verbindings, met medisinale waarde. Dit sluit in die voorkoming of verligting van hartsiektes, onderdrukking van plaatjieversameling, vermindering van bloedsuikervlakke, verlaging van bloedcholesterol en die voorkoming of verligting van infeksies wat deur bakteriese, virus-, swam- en parasitiese patogene veroorsaak word. Al hierdie eienskappe kan geniet word deur inkapseling van vloeibare konsentrate of gedroogde verpoeierde sampioene, soos ons onlangs bevestig het deur toetspogings wat as nutriseutiese sampioene gedefinieer is,” het hy gesê.

Hulle navorsing fokus op ses verskillende medisinale genera, elkeen met spesifieke medisinale eienskappe:

  1. Maitake: die mees dominante eienskap wat hierdie spesifieke sampioen vertoon, is die verlaging van bloeddruk asook cholesterol. Ander medisinale eienskappe is onder andere antikanker, antidiabetes en immuunregulering, terwyl dit ook die gesondheid van MIV-pasiënte kan verbeter.
  2. Die elwebankie (Turkey Tail)-sampioen is bekend vir sy werking teen verskeie gewasse en virusse, asook vir sy anti-oksidant-eienskappe.
  3. Shiitake-sampioene het anti-oksidant-eienskappe en is in staat om bloedserum-cholesterol (BSC) te verlaag. Die sampioen vervaardig ’n wateroplosbare polisakkaried, lentinan, wat moontlik verantwoordelik is vir antikanker-, antimikrobiese en anti-tumoreienskappe.
  4. Die Grys Oester-sampioen het medisinale eienskappe soos anticholesterol-, antidiabetiese, antimikrobiese, anti-oksidant-, anti-tumor- en immuunregulerende eienskappe.
  5. Daar was onlangs toenemende belangstelling in die Lion’s Mane-sampioen wat senuweegroeifaktore (NGF) bevat en as ’n moontlike behandeling vir Alzheimer se siekte aangewend kan word, aangesien hierdie verbinding blykbaar die vermoë het om miëlien weer te laat groei en te herbou deur neurone te stimuleer.
  6. Reishi-sampioene word beskou as die sampioene met die meeste medisinale eienskappe as gevolg van die uitwerking wat hulle op die verbetering van gesondheid het, byvoorbeeld die behandeling van kanker, asook die verlenging van lewensduur, weerstand teen en herstel van siektes.

Nog ’n navorsingsfokus is die bio-sampioentoepassingsverskynsel wat gebruik word om bome af te breek wat as indringerplante groei. Hierdie navorsing is potensieel baie waardevol vir die landbousektor in areas waar Acacia ’n indringerprobleem is. Met hierdie proses word afvalprodukte na ’n bruikbare toestand opgegradeer. “Dit is dus moontlik om houtagtige biomassa met ’n lae verteerbaarheid en beperkte beskikbaarheid van voedingstowwe in hoëgehalte veevoer te omskep. Deur die regte kombinasie van swamspesies te kies om landbou-afval te fermenteer, kan ’n menigte voordele inherent deel van die substraat word. Sampioene kan ’n biotegnologiese hulpmiddel word wat gebruik word om die substraat wat aan diere gevoer gaan word, ‘in te spuit’ met voedingstowwe en/of medisyne soos die behoefte en situasie voorskryf,” het prof Viljoen gesê.