Rosendal vier somerreëns

0
265
Rosendal

Rosendal, in die skilderagtige OosVrystaat, hou ‘n partytjie uit dankbaarheid vir die somerreëns met ‘n naweek van musiek, spys en pret. Ontmoet die vriendelike inwoners op Vrydag 10 Februarie by Kos-Huis vir ‘n heerlike aand met die musikale woordsmid, Stef Kruger, wat sy poëtiese liedjies uitvoer. Op Saterdag is ‘n besoek aan die dorp se galerye, winkels en restaurante (insluitend Angels Café en The Rose Hotel) ‘n moet, maar algemene ontspanning, fietsry, wandel, tennis of ‘n kuiertjie met familie en (nuwe) vriende word ook sterk aanbeveel. Maak smiddae kennis met ‘n plaaslike fromagère op ‘n pragtige plaas waar pryswennende organiese
bok- en ander kase beproef kan word met ‘n skemerstappie pm die aand in te wy. By die Waya Waya-taverne sal ‘n koue bier en potspel op almal wag en later is ‘n fantastiese jol à la Rosendal-styl by Die Koel Stoor op die spyskaart. Sondag 12 Februarie is ‘n dag van verdere ontspanning en lekker eet. Maar as jy rysmiere het, besoek die plaaslike permakultuurplaas, Waaipoort, loer in by die dorp se pragtige sandsteenkerk of slaan voet in enige rigting. Ga monate! Vir meer inligting, kontaknommers en besprekings, sien www. rosendalinfo.co.za. En voel vry om die woord te verkondig via e-pos, Facebook, ens.