Rooi dans soggens met geel oor Namib se Sossusvlei

0
898
Rooi dans soggens met geel oor Namib se Sossusvlei FOTO: MARICELLE BOTHA

Dit is vroeg die oggend en die mis hang dik oor Swakopmund. Die pad is lank tot by die volgende bestemming in die hartjie van die Namib-woestyn.
Ons vat die C14-roete in Windhoek se rigting. Soos jy ry, verander die landskap voortdurend. By Kriess se Rus-uitkykpunt staan die koker- en bottelbome kordaat in die blou lug. Hier, waar daar voorheen ‘n granaatmyn was, lê die oorskot van mynbedrywighede, bestaande uit mika en kwarts, blink in die woestynson. As jy mooi kyk, sal jy selfs nog klein stukkies granaat te sien kry.

Sonsopkoms in Sossusvlei. FOTO'S: MARICELLE BOTHA
Sonsopkoms in Sossusvlei. FOTO’S: MARICELLE BOTHA

‘n Bietjie verder ry jy deur die Kuiseb-canyon. Dié canyon is veral bekend nadat die beroemde geoloë, Henno Martin en Hermann Korn, drie jaar lank daar weggekruip het tydens die Tweede Wêreldoorlog, soos vertel in Martin se boek, The Sheltering Desert. Hoodia-vetplante lei jou padlangs tot in die middel van hierdie prehistoriese rotsformasies.
Waar jy die Steenbokskeerkring oorsteek, is dit beslis tyd vir ‘n fotosessie. By hierdie gewilde stilhouplek moet jy maar geduldig wees, want hier word byna ry-gestaan om ‘n foto langs die padbord te neem. Die Steenbokskeerkring is die mees suidelike breedtegraad waar die son direk oorhoofs kan wees. Die noordelike ekwivalent is die Kreefskeerkring.

Die mooiste gesig verwelkom jou vroegoggend in Sossusvlei.
Die mooiste gesig verwelkom jou vroegoggend in Sossusvlei.

Maak seker jy vul jou motor met brandstof en jou maag met ‘n heerlike porsie Apfelstrudel of ‘n Schweine Ohren (skilferkors-lekkerny) by Solitaire, ‘n historiese gehuggie vol karakter. Solitaire, met sy ‘oumotorbegraafplaas’, is aan die rand van die Namib-Naukluft Nasionale Park geleë en is al vir meer as 60 jaar lank ‘n welkome stopplek vir reisigers.

DSC_0027Sowat 20 minute se ry verder vind jy die Namib Naukluft Lodge op die rand van die nasionale park. Hier kan jy in die absolute stilte van die woestyn jou dag afsluit. Omring deur pragtige rotsformasies kan jy onder die suiwerste sterrehemel ‘n ware Namibiese braai geniet.
Trakteer jouself op ‘n besonderse vroeg opstaan-oggend die volgende dag. Ek gebruik die woord trakteer, want die waarde van hierdie dag se vroegoggend-ervaring sal jou eers met sonsopkoms in die Sossusvlei verras.

Duin 45 is een van die gewildste duine om uit te klim in Sossusvlei. FOTO: MARICELLE BOTHA
Duin 45 is een van die gewildste duine om uit te klim in Sossusvlei. FOTO: MARICELLE BOTHA

Jy sal reeds in die donker moet vertrek om sowat ‘n halfuur later by Sossusvlei se hek aan te kom. Teen daardie tyd behoort daar reeds ‘n ry motors by die hek te staan en wag vir die park om teen sonsopkoms oop te maak. Die kantoor sal nog nie oop wees nie, betaal dus vir jou permit met die uitkomslag – jy sal dit by die hek moet wys. Om meeste van die verkeer te mis, ry ‘n entjie in en neem dan die Elim-afdraai na regs – daar kan jy in rus en vrede die goudgeel sonsopkoms met jou tone in die bloedrooi sand ervaar.

Die Hoodia-plant wat deur die San as 'n eetlusdemper gebruik word. FOTO: MARICELLE BOTHA
Die Hoodia-plant wat deur die San as ‘n eetlusdemper gebruik word. FOTO: MARICELLE BOTHA

Teen die tyd dat jy dieper die reservaat inry, behoort die verkeer iets van die verlede te wees en kan jy rustig die reuse-duine besigtig. Met lugballone wat soos lanterns oor Sossusvlei hang, ry jy padlangs verby Duin 45 (jy kan dit met die terugkom uitklim) tot aan die einde van die pad. Hier is piekniekplek en badkamers. Moenie waag om sonder ‘n viertrekvoertuig verder as hierdie punt te ry nie. Moet egter nie vrees nie; hier kan diegene wat nie ‘n viertrekvoertuig het nie, betaal om met een dieper tussen die duine in geneem te word. Nou sal jy van die wêreld se hoogste duine kan aanskou en uitklim, naamlik Big Daddy, wat sowat 325m hoog is, en Big Mama, wat so klein bietjie kleiner is. Dit is ook van hier wat jy jou weg na die bekende wit kleipan, Dooievlei, met sy karaktervolle dooie kameeldoringbome, vind. Die kontras van die wit kleipan, rooisandduine en swart bome skep ‘n amper magiese atmosfeer.

Sesriem-canyon. FOTO: MARICELLE BOTHA
Sesriem-canyon. FOTO: MARICELLE BOTHA

Gepraat van magiese verskynsel, op pad terug uit die park, nadat jy nou Duin 45 uitgeklim het, sal jy aan jou linkerkant eienaardige leë sirkels in die gras opmerk. Hierdie sirkels, wat as Feësirkels (Fairy Circles) bekend staan, is dor kolle wat van alle plantegroei gestroop is en in deursnit wissel van 2m tot 15m. Tot en met 2014 was dié verskynsel net bekend in areas van die Namib-woestyn met dorre grasveld. Later is daar ook ander plekke in die wêreld opgemerk. Hierdie sirkels kom tipies voor in monospesifieke grasvlaktes, waar toestande veral baie droog is.

Stop vir 'n foto by die Steenbokskeerkring.
Stop vir ‘n foto by die Steenbokskeerkring.

Net buite die reservaat lê die Sesriem-canyon, wat sowat 5km lank is. Die canyon kry sy naam van boere wat met hul ossewaens hier verby getrek het. As jy glo in daardie tyd ses rieme aan mekaar gebind het, kon jy water uit hierdie rivier kry. Die grondformasies is asemrowend en hoewel dit een van die wêreld se kleinste canyons is, is dit beslis die moeite werd om af te klim tot onder en daar deur te loop. Daar is ‘n pad vir diegene wat daarin wil afgaan, moet dus nie sommer enige plek probeer afklim nie.

Sossusvlei se Feësirkels. FOTO: MARICELLE BOTHA
Sossusvlei se Feësirkels. FOTO: MARICELLE BOTHA

Voordat jy na jou aand se rusplek vertrek, stop eers gou by die Sossusvlei Engen met sy oulike winkel. Hier kan jy jou dors les, asook iets heerlik vars te ete kry.
Groet die pragtige rooiduine en vertrek na The Desert Homestead Outpost. Sowat ‘n uur later behoort jy tussen die rotsagtige koppies ‘n luukse oord met spogtente te vind. Met asemrowende uitkykpunte van oral, selfs vanuit jou badkamer, is hierdie beslis die plek om Sossusvlei se sand af te spoel en ‘n tweede asem te kry vir die aand se geselligheid in ‘n onthaal-area met die mooiste panoramiese uitsigte oor die woestyn.
Reis volgende week verder saam na Aus en sy wildeperde, Kolmanskop en Lüderitz. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

Bruikbare Nuus

Wat om te doen:

Klim van die wêreld se hoogste duine uit.

Verken Sossusvlei vanuit die lug in ’n lugballon of klein vliegtuigie.

Gaan stap by enige van die twee blyplekke en jy sal beslis ’n gemsbok of ses raakloop.

Waar om te bly:

Namib Naukluft Lodge – gerieflike kamp met ’n gesellige vleisbraai onder die sterrehemel. – (barbaras@afex.com.na / http://www.namib-naukluft-lodge.com/)

The Desert Homestead Outpost – ’n luukse tentkamp wat jou asem sal wegslaan. – (claudia.stueber@ondili.com / http://www.deserthomesteadlodge.com/)

Handige nommers:

Impala Tours –  http://www.impalatours.com/

Vir meer inligting besoek www.namibiatourism.com.na.

ntblogo