Reën ‘n welkome sig

0
1521
Goeie reënneerslae oor die sentrale deel van die binneland kan in die volgende twee weke groot verligting in droogtegeteisterde gebiede bring.

 ‘n Senior weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, Tonie Rossouw, sê dié toestande word vir die res van die week oor die sentrale en oostelike deel van die Noord-Kaap, asook die hele Vrystaat en Noordwes voorspel. Goeie neerslae van tot 50mm kan op plekke in die oostelike deel van die Noord-Kaap asook die westelike deel van die Vrystaat in die volgende 48 uur verwag word. Dit is ‘n welkome sig vir boere, terwyl damvlakke in opvanggebiede kan styg.

Rossouw sê dit is verblydend dat dié reëntoestande oor die volgende 14 dae gunstig gaan bly. Dit is vanweë vogtige lug wat suidwaarts vanaf Namibië en Angola inbeweeg. Rossouw sê die reën word met ope arms verwelkom. Dorre tuine in Bloemfontein het water nodig. Landboutoestande gaan ook beter daarna uitsien.

Hy sê die bewolkte, koeler lug kan veldtoestande verbeter.

Die afgelope 48 uur het verspreide reënval oor dele van die binneland voorgekom. By die Bram Fischer-lughawe is 6mm reën gister gemeet, terwyl 22mm in ander dele van die stad geval het. Kimberley in die Noord-Kaap het gister 12mm reën gehad. – Christal-Lize Muller