Polisie streng op paaie in die Oos-Vrystaat dié feestyd

0
390
FOTO: Dagga ter waarde van sowat R80 000 is gisteroggend op die N5 in die Oos-Vrystaat deur die polisie gekonfiskeer. Drie mans wat in ‘n bakkie van Ladysmith na Welkom onderweg was is in hegtenis geneem. FOTO: VERSKAF

Vrystaat polisie gaan misdaad in die komende feestyd met die nasionale “Back to Basics”-veldtog teëwerk. Provinsiale polisiekommissaris, Jacob Tsumane, rig ‘n streng waarskuwing aan misdadigers dat die polisie gaan toeslaan. Dié veldtog, poog om veral gewapende en transito-rooftogte by winkelsentrums en huisinbrake, wat reeds sedert Oktober begin toeneem het, hok te slaan.

Volgens Tsumane werk polisiebeamptes hard en meer as 1 200 inhegtenisnemings is reeds gemaak. Dit hou verband et moord, poging tot moord, verkragtings, besigheidsrooftogte, huisbraak en motordiefstal.

Dwelmmiddels soos dagga, Mandrax en Tik is gekonfiskeer. Polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, sê altesaam agt verdagtes, waaronder vroue, is vandeesweek in afsonderlike voorvalle op die R74 en die N5 in die Oos-Vrystaat aangekeer. Daar is op altesaam sowat 310kg dagga, ter waarde van  R300 000, beslag gelê.

Mophiring sê die inhegtenisnemings is deur lede van Harrismith-polisie, wat 24-uur per dag paaie patrolleer, uitgevoer. Verdagte motors is afgetrek en deursoek. Hy sê die polisie slaan nie net op hoofweë toe nie, maar verdagte voertuie word ook op nasionale en provinsiale paaie in die provinsie en veral in die Oos-Vrystaat wat aangrensend tot KwaZulu-Natal is, afgetrek.

Mophiring sê booswigte gaan hul beslis die komende feestyd in die polisie vasloop. – Christal-Lize Muller