Polisebeamptes uit hospitaal ontslaan na mesaanval

0
707

Twee polisiebeamptes wat gister op ‘n plaas buite Bloemfontein in die rigting van Jagersfontein deur ‘n pa en sy seun met messe aangeval is, is dieselfde dag uit ‘n private hospitaal ontslaan. Woordvoerder van die Life-Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, Esmarie Cronjé, sê een van die beseerde beamptes het ‘n steekwond aan sy regtersy gehad, terwyl sy kollega ‘n steekwond in die rug gehad het.

Volgens haar is die beseerde polisiebeamptes, wat in ‘n erstige maar bestendige toestand was, in dié hospitaal behandel.

Dit kom nadat sers. Mokonae Moroane en konst. Pitso Bulane van die Tierpoort-polisiekantoor gisteroggend ontbied is deur ‘n vrou,  wat glo in ‘n bakleiery met nog ‘n vrou op die plaas Pampita was.

Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, sê een van die beamptes is deur ‘n 57-jarige man wat vermoedelik ‘n plaaswerker is gekonfronteer. Dieselfde man se 27-jarige seun het die ander polisiebeampte, wat in daardie stadium met die vrou gepraat het wat die polisie ontbied het, met die vuiste getakel.

‘n Groep mense het daarna op die beamptes toegesak. Die beamptes het terugbaklei en kon egter hulp ontbied.

Mbambo sê die 57-jarige verdagte het ‘n mes by hom gehad.

Lede van die Bloemfonteinse intelligensie en blitspatrollie eenhede, asook lede van die Parkweg-polisiekantoor, was vinnig op die toneel.

Die pa en seun is op die toneel in hegtenis geneem en sal na verwagting môre in die landdroshof in Bloemfontein op aanklagte van aanranding met die doel om erstig te beseeer verskyn.

CHRISTAL-LIZE MULLER / OFM NEWS