Pellissier-moord – oorledene môre ter ruste gelê

0
1229
Moordtoneel by Pellissier. FOTO: MARK STEENBOK

‘n Afgetrede Transnet-treindrywer van Bloemfontein, wat vandeesweek in sy huis in Pellissier vermoor is, word môre ter ruste gelê. Die 73-jarige Hendrik Knoetze se lyk is Maandag deur ‘n buurman gevind. Na wat verneem word, is die buurman omstreeks 09:00 na Knoetze se huis om ondersoek in te stel nadat hy Knoetze die vorige paar dae nie gesien het nie. Knoetze se lyk was in ‘n sittende posisie teen ‘n yskas in sy kombuis. Sy hande en voete was met toue vasgebind. Hy het verskeie kopwonde opgedoen. Knoetze se neef, Glanville Oliver, het hom as ‘n diere- en natuurliefhebber beskryf. Oliver sê Knoetze was diep gelowig en het al verskeie kere die Bybel deurgelees. Hy het as enkellopende ‘n kluisenaarsbestaan gevoer. Volgens Oliver koester Knoetze se naasbestaandes geen wrok nie.

Hy sê Knoetze se twee suster van Port Elizabeth het vandeesweek in Bloemfontein aangekom. Almal wat betrokke is hoop dat die polisie gou die booswigte in hegtenis sal neem. “Die skuldiges moet aan die pen ry.”

Intussen sê die polisie se Chaka Marope niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Knoetze se roudiens vind môre om 10:00 uit die Dove’s-kapel in Bloemfontein plaas. – Christal-Lize Muller