Pasop, hier kom die son!

0
233
Natuurlik is dit heerlik om tyd buite deur te bring in ‘n sonnige land soos Suid-Afrika, maar tog is dit só gevaarlik. Dit is belangrik om jou vel gereeld te ondersoek, wees op die uikyk vir nuwe letsels of knoppies wat nie wil gesond word nie.

Dit is vakansietyd en vir baie mense is dit ’n tyd om met kort moue en kaal bene rond te loop. Die son kan nou wel vir jou ’n gesonde sonbruin gee, maar te veel van ’n goeie ding is nie goed nie. Statistieke toon dat Suid-Afrika, saam met Texas en Australië, die wêreld se hoogste voorkoms van velkanker het. Jaarliks word byna 10 000 nuwe gevalle gediagnoseer. Courant het by die Bloemfonteinse dermatoloog, Juanita van der Walt, gaan kers opsteek oor die gevare van sonblootstelling en watter voorsorgmaatreëls getref kan word om jou vel te beskerm.

Natuurlik is dit heerlik om tyd buite deur te bring in ’n sonnige land soos Suid-Afrika, maar tog is dit só gevaarlik. Wat veroorsaak sonbrand?

Dit word natuurlik veroorsaak deur te veel blootstelling aan die son. Sonbrand word hoofsaaklik veroorsaak deur ligfrekwensies wat die son natuurlik uitstraal. Dit is hoofsaaklik UVA- en UVB-strale wat die son uitstraal. Die strale veroorsaak ’n inflammatoriese reaksie in die vel en dit veroorsaak dan DNAskade.

Wat is van jou tipiese simptome van sonbrand?

Jou vel word baie rooi, die vel is pynlik en baie gevoelig, met swelling. Jou vel kan afdop en dit kan ook jeukerig wees. Jy kan ook blase brand. Dit is ’n aanduiding dat dit ’n ernstiger tipe sonbrand is.

Baan sonbrand die weg vir velkanker?

Ja, jy kan verskillende tipes velkanker ontwikkel as gevolg van sonbrand. Die son se ultraviolet-strale kan ook melanoom, ’n ernstige, aggressiewe en potensieel dodelike vorm van kanker, veroorsaak.

Watter mense is meer geneig om sonbrand te ontwikkel?

Hoe ligter jou vel is, hoe makliker kan jy sonskade opdoen. Dit sluit ook mense in wat ’n geneigdheid het om sproete te brand, en dan natuurlik mense wat ’n familiegeskiedenis van velsiektes het.

Presies hoe gevaarlik is sonbrand vir kinders?

Die sonskade wat mense opdoen, juis as ’n kind en spesifiek voor die ouderdom van 30, is baie keer die skade wat later in jou lewe vir jou velkanker kan gee. Om jou vel op te pas juis wanneer jy jonk is, is verskriklik belangrik.

Op watter tye van die dag moet mense liefs uit die son bly?

Dit is natuurlik oor die warmer tye van die dag, van 10:00 tot 15:00. Onthou ook dat jy selfs op ’n bewolkte dag sonbrand kan opdoen as gevolg van die UVA-strale wat deur die wolke skyn.

Is daar voorsorgmaatreëls wat mense kan tref om sonbrand te voorkom?

Sonbrandroom is ’n goeie begin en beskermingsmaatreël. Maar nie een sonbrandroom bied 100% beskerming nie. Ek dink fisieke beskerming soos hoede, sonbrille en langmouklere is verskriklik belangrik, veral vir kinders. Vermy liewer die son en soek skadu op.

Wanneer is dit nodig om jou huisdokter te bel?

As jy simptome begin toon soos koors, jou vel wat te gevoelig is en warm is met aanraking, pyn, jeukerigheid, swelling, asook kopseer. Wees op die uitkyk vir moesies met ’n oneweredige, gekerfde of getande rand, of opgehewe riffels – die algemeenste kenmerke van melanoma. Wees ook op die uitkyk vir ’n letsel wat afdop en nie binne ’n maand gesond word nie. Dit is belangrik om jou vel gereeld te ondersoek, wees op die uitkyk vir nuwe letsels of knoppies wat nie wil gesond word nie.

mark@centralmediagroup.co.za