Oud-dosent leef passie uit

0
1338
Hier word ernstig geoefen en by Neels Swanepoel se groep is daar nie tyd vir doekies omdraai nie. Willie van Schalkwyk demonstreer van die oefeninge wat by die parkie gedoen word.

Dit is niks ongewoons om smiddae ’n groep mense, oud en jonk, op die munisipale speelpark naby die NG kerk Heuwelsig in Dan Pienaar hard aan die oefen te sien nie. Die man wat verantwoordelik is dat die sweet behoorlik tap, is die 75-jarige Neels Swanepoel.

Dié oudonderwyser en afgetrede dosent in Liggaamlike Opvoeding aan destydse Onderwyskollege, met sy fluitjie om die nek, is onmisbaar by die weeklikse oefensessies. Hy weet presies wat om te doen om die spiere te laat werk en doen dit al die afgelope 26 jaar, selfs in wind en weer. Swanepoel verwys na homself as ’n “oefenkundige”, ’n ghoeroe by wie groot name in sport al oor die jare aangeklop het om hul fiksheid te verbeter.

Kort ná sy aftrede het die doelgerigte Swanepoel besluit om homself besig te hou en hoe dan anders as om sy passie en jare lange ervaring met ander te deel. Swanepoel sê die voormalige Springbok, André Venter, wat destyds vir die Vrystaatrugbyspan uitgedraf het, was een van die eerstes wat in 1991 by hom begin oefen het. Hy het ook talle ander sportmanne in die gimnasium met die regte oefeninge gedril.

Swanepoel is trots op die rol wat hy van 1998 tot 2001 in die Griekwa-rugbyspan se kondisionering gespeel het. Hy het dit eers saam met afrigter André Markgraaff en toe saam met Swys du Bruin gedoen. Dit is nie slegs “groot name” wat Swanepoel se oefensessies in die buitelug en sessies by die Tempegimnasium bywoon nie.

Deelnemers aan verskeie sportsoorte, asook gewone mense van alle ouderdomme, maak op hom staat, want hy pas sy oefenprogram aan by enkelinge se behoeftes – al oefen hulle in groepsverband saam.

Die 75-jarige Neels Swanepoel wys Willie van Schalkwyk hoe dinge gedoen word. FOTO'S: MARICELLE BOTHA
Die 75-jarige Neels Swanepoel wys Willie van Schalkwyk hoe dinge gedoen word. FOTO’S: MARICELLE BOTHA

Sy sessies in die buitelug bevat kardiovaskulêre oefeninge om algemene fiksheid te verbeter en is gerig op diegene wat van hul vetrolletjies ontslae wil raak. Gewigte, trekkerbuitebande en ander tradisionele apparate wat in die buitelug gebruik word, versterk spiere.

Swanepoel sê hy het nog geen planne om in die nabye toekoms met sy oefensessies weeksdae van 16:30 tot 18:00 op te hou nie. Sy doelwit is om almal wat by hom oefen te help om hoër hoogtes te bereik en ’n gesonde leefstyl te handhaaf. Hy glo ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees.

Dit gaan vir hom oor mense se vordering. “Dit is vir my lekker om ’n verbetering by mense te sien (fisiek en sielkundig). Ek wil iets vir ander beteken”. Belangstellendes kan Swanepoel by 082-826-6604 bel. – Christal-lize Muller

christal-lize@centralmediagoup.co.za