Oros in ‘n Lang Glas hef jeug op

0
586
oros in ’n lang Glas se Shandor Potgieter in aksie saam met die lerata Marimba Band. FOTO'S: MUDBOOTS PHOTOGRAPHY

Die plaaslike musikant, Shandor Potgieter, het oor die jare bekendheid verwerf as die hoofsanger van die groep, Oros in ‘n Lang Glas.
Min weet egter van sy betrokkenheid by die opheffing van ander musikante en die passie wat hy daarvoor het. Juis hierom onderneem Potgieter sy eersdaagse Oros in ‘n Lang Glas-toer deur sentraal Suid-Afrika, met drie jong musikante by wie hy sedert verlede jaar betrokke is.
In 2016 het Potgieter en Engela Fourie (stigter van die gemeenskapsentrum Tjhabelang in Bainsvlei buite Bloemfontein) die Indigenous Dance and Music Programme begin, wat deur die Nasionale Lotery befonds word. “Ek het meer tyd saam met van die marimbaspelers begin deurbring en hulle bietjie begin mentor oor die musiekbedryf. Ek het vir hulle ‘n paar Oros-songs geleer en toe besluit om hulle te nooi om saam met my op verlede jaar se Vrystaat Kunstefees te speel. Dit bring ‘n ander dinamika aan die show – mense is gewoond daaraan dat marimbas gewoonlik net op sypaadjies of by fancy mense se troues gespeel word. Nou word hierdie seuns die geleentheid gegee om actually deel van ‘n moewiese show te wees en mense begin dink marimbas is cool en nie net ‘n klomp houtbalke wat geslaan word nie,” vertel Potgieter kort voordat die konserttoer begin.
Die Indigenous Dance and Music Programme fokus daarop om minderbevoorregte kinders en die jeug te bemagtig en te ontwikkel. Potgieter meen daar is soveel mense wat nie die kans kry om te ontwikkel nie en hierdie projek bied ‘n geleentheid vir mense wat ‘n verskil in die samelewing wil maak en hulself wil bevorder.

Die lerata Marimba Band se Petrus Motsabi en tshepang Seekoe.
Die lerata Marimba Band se Petrus Motsabi en tshepang Seekoe.

Meer as 2 700 mense is tot dusver deur die projek bereik. “Dit is mense wat andersins nooit aan enige tipe kuns- of musiekopleiding blootgestel sou gewees het nie. Drie van die seuns wat by die projek betrokke is, het baie potensiaal getoon en ons het meer met hulle begin werk. Dit het gelei tot die ontstaan van die Lerata (Geraas) Marimba Band bestaande uit Kgotso Weymers, Petrus Motsabi en Tshepang Seekoe.”
Die Lerata-marimbagroep kan dus eersdaags op die Oros in ‘n Lang Glas-toer gehoor word. “Hulle feature in die show, so ons het ‘n paar Oros-songs rearrange en ek is baie opgewonde om dit saam met hulle te showcase. Hulle bring ‘n nice presence na die shows. Al drie van hulle is amazing kunstenaars en baie talentvol. As ‘n mens dit sien, sal jy nie kan glo dat hulle ‘n jaar gelede nie ‘n enkele noot kon speel nie,” vertel Potgieter opgewonde.
Hy vertel daar is natuurlik ‘n baie fyn lyn met hierdie tipe produksie. “Albei dele moet mekaar komplementeer en ek dink die grootste challenge is om te weet waar moet watter een domineer. Dis eintlik maar dieselfde challenges as in enige verhouding – op die einde moet die song mooi wees en mense moet dit geniet.
“Hierdie is een van daai shows waar mense kan kom en net wéés. Dis lekker relaxed en almal moet net ‘n goeie tyd hê, so met ander woorde, as jy die sound moet beskryf is dit soos toe die Cheethas die Curriebeker gewen het, tot die Bulle was bly daaroor! Dis die ding, hierdie show laat almal goed voel. Dis nie swaar nie en sluit van ballades tot lekker dans-songs in. Dis ‘n produksie met goeie entertainment value. Ons stap nie net op, speel die show en gaan nie.” – Maricelle Botha 
maricelle@centralmediagroup.co.za

Bruikbare Nuus

Oros in ’n Lang Glas en OFM het hande gevat vir hierdie konsserttoer. OFM se betrokkenheid maak dit moontlik om die geld wat op die toer ingesamel word, aan Tjhabelang (www.tjhabelang.com) te skenk. Hulle kan op die volgende plekke gesien word. 3 Februarie – Beer Factori, Klerksdorp 4 Februarie – Pickled Pig, Parys 10 Februarie – Goldfields Casino, Welkom 11 Februarie – Frontier Inn, Bethlehem 17 Februarie – Cheers, Kimberley 18 Februarie – Die Duif, Christiana Op 25 Februarie eindig die toer op die Quennafees by die Gariepdam.