Oranje-meisies helder Sunflower Hospice se Kerstyd op

0
433
Verteenwoordigers van die Laer Meisieskool Oranje het onlangs fondse wat deur leerders ingesamel is deur middel van die ARK-projek aan Sunflower Hospice geskenk. Agter is skoolhoof, Adrie Albertyn, onderhoofmeisie vir 2016, Irmarie Buys, sr. Melinda Muller en Tshego Tunayane van die Sunflower Hospice en Tania Smith, ook van OMS, saam met inwoners van Sunflower. Voor is OMS se 2016-hoofmeisie, Zelmi Marx. FOTO: MARICELLE BOTHA

“Negatiewe aksies versprei negatiewe energie en dit is hoekom die wêreld tans so oorspoel is met konflik, ellende en kwaadwilligheid.”
Dit is die standpunt van die liefdadigheidsorganisasie, Change our World for Good. Een van dié internasionale organisasie se projekte is die ARK-spaarbussieprojek. ARK-spaarbussies is geskep met die bedoeling dat persone dit moet vul met (spaar) kleingeld en dan aan ‘n persoon in nood of ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse skenk. Die doel hiermee is om goedheid, omgee en vriendelikheid oor die wêreld te versprei.
Die Laer Meisieskool Oranje (OMS Laer) is een van Bloemfontein se skole wat sedert September aan dié projek deelneem.
Volgens OMS Laer se skoolhoof, Adrie Albertyn, het al 568 van die skool se leerders aan die projek deelgeneem. Die skool se keuse was om die fondse wat ingesamel is aan ‘n spesifieke organisasie te skenk, maar indien leerders dit eerder aan ‘n individu sou wou skenk, kon hulle dit ook doen.
Al die leerders was baie positief om aan die projek deel te neem. Die skool het Vrydag kratte met vol spaarbussies aan die Sunflower Hospice op die terrein van die Nasionale Hospitaal geskenk. Sunflower Hospice bied palliatiewe versorging aan kinders met ernstige siektes.
Suster Melinda Muller, verpleegkundige in beheer van Sunflower Hospice, sê dié skenking word veral in hierdie moeilike tyd van die jaar verwelkom. “Ons sal die geld aanwend vir Kerspakkies aan kinders in die gemeenskap wat deur ons versorg word. Ons maak staat op ondersteuning van die publiek en is geweldig dankbaar vir enige bydrae. Ek dink ook dit is ‘n besonderse inisiatief wat kinders leer daar is ander kinders rondom hulle wat nie so bevoorreg is nie.”
ARK is ook op skoolleerders gemik en die primêre doelwitte van die program is om alle individue te leer hoe belangrik en kragtig hul eiewaarde is, om die waardigheid van ander te besef, en dat klein dade van goedheid en guns nie net die lewens van diegene rondom hulle verander nie, maar ook ‘n invloed op die wêreld rondom hulle het.
Die projek bevorder ook lees onder leerders. Saam met die ARK-spaarbussies word ook leesboekies aan die verskeie ouderdomsgroepe uitgedeel.
Vir meer inligting oor die projek, besoek www.changetheworldforgood.co.za. –  инструкция по сбору детской кроватки с маятником Maricelle Botha 
maricelle@centralmediagroup.co.za