Ontmoet die gesig agter KRONE

0
405
Niel Schoombee en sy geliefde patryshond, Smoodge

Niel Schoombee is al vir sowat twee jaar deel van die Rosestad en is versot op die rustigheid en gasvryheid van die stad.
Schoombie het geen bekendstelling nodig nie, hy was een van die vyf lede van die bekende sangroep, Hi-5.
Hy het in Pretoria grootgeword en skoolgegaan. Sy loopbaan tot dusver kan beslis as besonders beskryf word.
“Nadat ek in 2000 my graad aan TUKS voltooi het, het ek ‘n jaar lank in LA gebly waar ek vir Disney gewerk het. Ek is daarna terug Pretoria toe waar ek nog ‘n wyle vertoef het, tot in 2006. Ek het in 2003 ‘n sanggroep met die naam Hi-5 saam met ‘n vriend van my begin en ons het die wêreld vol getoer. In 2007 het ons in Mallorca, Spanje, gebly terwyl ons deel was van ‘n teaterproduksie daar. Ek het ‘n jaar later teruggekom en van 2008 af was ek deel van die Select-musiekspan in die Kaap, waar ek gewoon het tot in 2015,” vertel Schoombee.
Schoombee het daarna na die Rosestad te verhuis omdat sy lewensmaat hier bly en hy nog altyd na Bloem wou terugkeer ná sy eerste besoek. “Select Musiek het dit ook goedgedink om ‘n tak in die Vrystaat oop te maak sodat ons wyer verteenwoordig kon word. Dis hier waar ek onder meer vir Brendan Peyper ontdek het.”
Wat hy bedags doen is nogal opwindend. “Ek is eerstens ‘n label manager vir SONY – Select Musiek, wat basies ‘n hele paar kunstenaars se produkte bestuur. Dus maak ek seker dat die kunstenaar die regte materiaal opneem vir die mark van sy keuse en ek is dus baie betrokke by die kreatiewe skepping van die materiaal, die uitsoek van ander liedere van ander skrywers, en dan natuurlik die produksie daarvan,” verduidelik hy.
“Ek is betrokke by alles – van die inisiële konseptualisering tot die omslagontwerp, fotosessies, musiekvideo’s, ens.,” vertel hy.
Een van sy grootste projekte tans is die KRONE-vertoning elke jaar. Dit is ‘n Europese konsep wat hy in 2011 in Amsterdam gesien het. Hy het dadelik besef dat dit in Suid- Afrika sal werk.
Hy is ook ‘n liedjieskrywer van formaat en het al meer as 600 liedjies op ‘n album geplaas, soos onder meer Kaalvoet Sokkie, Bittersoet en Twee is beter as een.
Schoombee kan natuurlik nie net werk nie en hou hom in sy vrye tyd besig deur flieks en reekse te kyk, tyd met sy drie honde deur te bring en die wêreld vol te toer.
Dit is duidelik dat Schoombee gek is na Bloemfontein. “Ek is mal oor die vriendelike persoonlikhede van die Vrystaters, die lekker boerekos en die feit dat mens meer by mekaar kuier as in malls en restuarante, en natuurlik, die mooi
sonsondergange.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za