Onthou jy nog die nagmarse?

0
865

Die tyd in die weermag was vol uitdagings. Wie onthou nog die parades en nagmarse? In die donker het nagsig gehelp en soms kon jy daar ver die skerp lig sien van die ligte van die naburige kamp.
In Matt 5:16 sê Jesus vir ons dat ons die lig van die wêreld is. Ons opdrag is dat ons in die ligbaan van ons lewe iets van God moet wys, sodat mense God kan sien en Hom volg. Die boodskap in Mattheus is nie dat ons moet probeer om ‘n lig in die donker wêreld te wees nie, of dat ons dit behoort te wees nie. Nee, dit is vanselfsprekend: “Julle ís die lig vir die wereld.”
Hoe kan ons dit doen? In vers 16 van hoofstuk 5 lees ons dat dit “ons goeie werke” is wat mense daartoe sal bring om God raak te sien. Goeie werke? Wat beteken dit? Dit is ‘n nuwe lewenstyl. Ons is verander, ons is anders! Hierdie lig in ons lewe kan niemand uitdoof nie, selfs nie die eise van die nuwe jaar nie.
Die uitdaging aan jou en my is om dit te leef wat ons glo – dalk net weer opnuut ‘n besluit te neem dat ons ‘n verskil gaan maak in elke tree wat ons gee, dat ons ‘n verskil sal maak in die nagmarse van die lewe en op die voetpaaie van die lewe.

DS Stephan van Heerden