Om mekaar te oordeel

0
278

Is ons lewe nie soms vasgevang in oordeel en beoordeel nie? Kom ons meet onsself bietjie aan ons uitsprake oor mense. In Matt 7:1-12 lees ek die woorde: “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie…” Dit is nogal maklik om die gedeelte te lees en te dink: “Sjoe, gelukkig oordeel ek nou nie eintlik mense nie!” Tog is ons maar elkeen besig om mense en hul optrede te weeg en te beoordeel. Die volgende het my laat dink oor die lewe:
• Oordeel vat altyd die kortpad, want dis makliker om iemand te oordeel as om werklik vir iemand om te gee.
• Oordeel kom nie uit ‘n hart van liefde nie. Moeder Theresa het hieroor die volgende gesê: “If you judge people, you have no time to love them.”
• Oordeel breek die huis af, maar dit help nie bou nie!
• Die laaste gevolg van oordeel is dat dit ons verhoed om iemand werklik te leer ken of in iemand se skoene te staan, want oordeel gee niemand ‘n kans om hom of haarslef te bewys of te verander nie.
Wat is die antwoord? In vers 12 staan, “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”

DS STEPHAN VAN HEERDEN