Olympia wen o.14-afdeling op ECHS-toernooi

0
320
PHOTO: CHARL MALAN

Die Hoërskool Olympia in Heidedal het verlede week op die ECHS (Elsie Coetzer Hockey School)-toernooi gewys dat sy o.14-span vir seuns nie sonder handskoene aangedurf moet word nie, en dat hulle voortaan ook nie onderskat moet word nie.

En, dit was nie ‘n klein toernooi waar dié span van Olympia naam gemaak het nie. Daar was nie minder nie as 2000 spelers van oor Suid-Afrika heen wat aan die toernooi, wat ‘n afrigtingskliniek ingesluit het, deelgeneem het.

Daar is verskeie gekombineerde spanne wat tydens die toernooi onder die vaandel van ECHS saamgespeel het.

Olympia het in sy opmars na die eindronde van die genoemde o.14-afdeling eers die krag van die Hoërskool Kemptonpark ‘n deeglike hokkieles geleer en hulle 9 – 0 pak gegee.

In Olympia se tweede en derde wedstryde het hulle onderskeidelik die gekombineerde ECHS-R en L-spanne met 4 – 0 en 5 – 0 verslaan.

Hulle het egter hierna teen ‘n begeesterde span van die Hoërskool Kroonstad te staan gekom en nie een van dié twee wou besgee nie. Die telbord het teen eindfluitjietyd op een elk halt geroep.

Dit was ook nie die einde van naelbytstryde vir Olympia nie. In hul volgende wedstryd het die Heidedallers hulle teen die kanniedood-span van die Hoërskool Cradock vasgeloop, maar Olympia het weer eens gewys hulle skrik vir niks en niemand nie en die wedstryd met 1 – 0 beklink.

Bogenoemde wedstryde van Olympia het beteken dat hulle in die eindstryd teen ‘n gekombineerde span van ECHS te staan gekom het. Ná ‘n wipplankstryd het Olympia uiteindelik die oorhand gekry en met 1 – 0 geseëvier.

In die o.19-afdeling vir meisies het dit behoorlik doele gereën. Die twee spanne wat vir die meeste van dié doele gesorg het, was die Hoër Meisieskool Oranje (B-span) en die Hoërskool Voortrekker (Bethlehem) wat hul pad oopgeslaan het tot ‘n titaniese eindstryd tussen hulle.
Oranje se suksesverhaal tot by die eindstryd was as volg: klop Heidelberg (16 – 1), Hugenote (5 – 0), Volkskool Potchefstroom (4 – 0), Hoërskool Klerksdorp (1 – 0), Transvalia (3 – 2) en speel in die groepwedstryde (voor die eindstryd) gelykop teen die seuns van Voortrekker. Geen doele is aangeteken nie.

Die einste Voortrekker het sy pad vir ‘n eindstryd teen Oranje as volg oopgeveg: klop Dinamika (16 – 1), Drostdy (13 – 0), Schweizer-Reneke (6 – 1), EG Jansen (6 – 0), Transvalia (2 – 0).

In die eindwedstryd het Oranje (B) en Voortrekker weer eens goed teen mekaar opgeweeg en met goeie verdediging en aanvalle aan albei kante het hulle die sirene wat die einde van die wedstryd aangedui het bereik met die telling op een elk.

Daar is nie ekstra tyd of ‘n uitskietstryd gespeel nie en dié twee hokkieskole het die trofee gedeel.

In die afdeling vir seuns o.19 het die manne van die Hoërskool Nelspruit die eindstryd teen die Hoërskool Drostdy met 1 – 0 beklink. – RUFUS BOTHA