Nuwe beddens aan Olea geskenk

0
1045
Bloemfontein se blinde Paralimpiese atleet, Louzanne Coetzee, het die name vir gelukstrekkingpryse getrek op 'n spoggeleentheid toe 26 beddens ter waarde van sowat R70 000 aan Kansa vir sy Olea-versorgingstuiste in Bloemfontein geskenk is. Hier is Coetzee saam met die Vrystaat Cheetahs se Cheetah en haar gids, Khothatso Mokone. In die agtergrond is van die Vrystaat Cheetahs-rugbyspelers, wat ook die geleentheid bygewoon het.

Die Mediese Vereniging van Suid-Afrika (Sama) en die Senior Doktersvereniging van Suid-Afrika (Sedasa) het in samewerking met Equara Health tydens ‘n luisterryke geleentheid by die Onkologie-sentrum in Bloemfontein nie minder nie as 26 splinternuwe beddens ter waarde van sowat R70 000 aan die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) vir sy Olea-versorgingstuiste in Bloemfontein geskenk.
Hierdie skenking is as broodnodig geïdentifiseer vir Olea, ‘n tuiste vir kankerpasiënte wat na die Rosestad kom vir behandeling uit die res van die Vrystaat, die Noord-Kaap, Noordwes, Oos-Kaap en selfs Lesotho.
Die R70 000 het gegroei tot
R77 000 en nóg ‘n Kansa-tuiste, Huis Katleho, gaan baat by die geld wat ingesamel is.
In die gees van kankerbewusmaking onder mans in November (Movember), het een van die groot dryfvere van die projek, dr. Deon Menge, en sy span besluit om die tema Prostaatkanker en Fiksheid te maak. Menge is Sedasa se nasionale projek- en veldtogkoördineerder.
Die geleentheid, waar verskeie gelukstrekkingpryse op die spel was, het gewemel van sportsterre van Bloemfontein.
Wayde van Niekerk, wêreldrekordhouer in die 400m, kon die geleentheid nie bywoon nie, maar het tientalle waterbottels saam met sy afrigter geteken, wat as uiters gewilde gelukstrekkingpryse op die spel was.
Drie van die Vrystaat Cheetahs se voorste rugbyspelers, Tian Meyer, Johan “Aranos” Coetzee en Michael van der Spuy, het die geleentheid saam met die Cheetah-gelukbringer bygewoon. Hulle het vyf rugbyballe wat deur die Vrystaat Cheetahs se Curriebeker-wenspan geteken is, saamgebring as pryse vir die gelukstrekkingsgeleentheid.
Elsabé le Roux en Sandile Makwali, Suid-Afrika se voorste karateka in hul onderskeie afdelings, het die geleentheid saam met hul sensei (afrigter), Ian le Roux, bygewoon. Ian spog met sy sewende dan en is een van die hoogs gekwalifiseerde senseis in Suid-Afrika. Elsabé en Makwali het van hul karatehandskoene (mitts) waarmee hulle in die groen en goud in aksie was, geteken as pryse.
Dan was daar ook die twee internasionale blinde atlete, Danie Breitenbach en Louzanne Coetzee, wat die name getrek het tydens die gelukstrekking.
Heelparty kankerpasiënte was teenwoordig en die toejuiging was groot toe Coetzee die groot prys van die dag, ‘n Tom Tom Spark Cardio-GPS, getrek het en die naam van een van die kankerpasiënte uitgelees is. Dié prys se waarde is meer as R3000.
Coetzee, die wêreldrekordhouer vir volkome blinde atlete in die 5000m en ook ‘n Paralimpiese atleet, was die gasspreker by die geleentheid en die gehoor het behoorlik aan haar lippe gehang. Sy het veral klem gelê op die mens se houding (attitude) teenoor die lewe. Die uroloog, dr. Aubrey Coetzer, het oor die toets en opsporing van prostaatkanker gepraat, terwyl dr. Rudi de Wet inligting verskaf het oor sportmedikasie. – Rufus Botha 
info@bloemfonteincourant.co.za