Nou makliker om appels met appels te vergelyk

0
247

Die meeste beleggers is teen dié tyd al vertroud met die terme “Vermindering in Opbrengs” (in Engels is dit Reduction in Yield – RIY), en “Totale Onkosteverhouding” (in Engels Total Expense Ratio – TER). Die RIY en TER het vir beleggers ‘n aanduiding gegee van wat die koste-implikasie van ‘n betrokke belegging kan wees.
Albei die RIY en TER het sekere tekortkominge gehad, en meer spesifiek was dit moeilik gewees om die koste van beleggingsprodukte op ‘n lewensversekeringsplatform te vergelyk met produkte op ‘n beleggingsgekoppelde platform – lewensversekeringsprodukte maak gebruik van die RIY, terwyl beleggingsgekoppelde produkte gebruik maak van die TER.
Indien jy as ‘n belegger dus beleggingsprodukte oor die volle spektrum begin vergelyk het, was dit moeilik om die een se TER te vergelyk met ‘n ander se RIY. Gegewe die feit dat kliënte, en klante te alle tye regverdig behandel moet word, soos bepaal deur TCF (Treating Customers Fairly), het die lede van Asisa (Association for Savings and Investments in South Africa) aan die werk gespring om ‘n metode te ontwikkel wat dit vir beleggers moontlik maak om enige beleggingsproduk se koste met dié van enige ander beleggingsproduk te vergelyk deur dieselfde standaard te gebruik.
So het Asisa vorendag gekom met die “Effektiewe Jaarlikse Koste-maatstaf of EJK” (in Engels is dit Effective Annual Cost – EAC), Jy kan dus nou die koste van ‘n uittree-annuïteit op ‘n lewensversekeringsplatform direk vergelyk met dié van ‘n uittree-annuïteit op ‘n beleggingsgekoppelde platform (LISP), en sodoende ‘n meer ingeligte besluit neem. Die EAC is reeds effektief vanaf 1 Junie 2016, en alle maatskappye/produkverskaffers moes die EAC-standaard teen 1 Oktober 2016 geïmplementeer het. Die mees algemene dokument waar jy die EAC sal raaksien, is op kwotasies van die produkte wat jy oorweeg. Kry dus die kwotasie en vergelyk nou appels met appels. Hou maar in gedagte dat die goedkoopste produk nie noodwendig die beste produk is nie, en daar ook ander aspekte rondom beleggings is wat oorweging moet geniet. Volgende week bespreek ons hoe die EAC bereken word. – Horace Terry 
horace@nassaux.com