Noodhulp vir ouers

0
4

OWEN KOCK

Vakansietyd is ontspantyd, maar ongelukkig is dit ook die tyd wat ongelukke maklik gebeur – veral met kleintjies in en om die huis. Hier is ’n paar moets en moenies oor hoe om noodsituasies by die huis te hanteer. Onthou egter, indien jy onseker is, spreek ’n dokter of besoek noodgevalle by ’n hospitaal.

VERGIFTIGING

Hoewel jy dalk medisyne en skoonmaakmiddels veilig wegbêre, beland hulle soms in ’n kleinding se hande. Indien jou kind skielik begin braak, sy of haar maag vashou, begin krampe kry of bewussyn verloor, is dit moontlik dat die kind of deur medisyne, kos of huishoudelike skoonmaakmiddels vergiftig is.

Wat om te doen:
Skakel dadelik ’n sentrum wat met vergiftiging werk en volg hul instruksies. As jy weet wat jou kind ingekry het, noem dit aan die persoon wat jou help. Kyk gereeld na die kind se asemhaling. Moet nie kind aanmoedig om te braak, tensy daar vir jou opdrag gegee word om dit te doen nie. Hou enige tablette, medisyne of kos wat jy dink jou kind moontlik ingeneem het byderhand sodat dit geïdentifiseer kan word.

Wenk: Koop medisyne wat nie deur kinders oopgemaak kan word nie. Sluit medisyne en huishoudelike produkte veilig buite bereik van kinders toe en hou altyd die nommer van ’n vergiftigingsentrum byderhand.

ELEKTRIESE SKOKKE

Elektriese skokke is altyd ’n risiko in ’n huis met kinders omdat hulle hul vingers in muurproppe druk en aan foutiewe bedrading vat.

Wat om te doen:
Kyk of jou kind se lugweg oop is en of hy/sy asemhaal. As jou kind bewusteloos is, skakel vir hulp terwyl jy hom/haar probeer bybring. Skakel die elektrisiteit af en maak seker die toneel is veilig. Behandel die wond as ’n normale brandwond.

BRANDWONDE

Brandwonde deur vuur, chemikalieë of warm vloeistof lei tot rooi of swart vel, wat gewoonlik gepaard gaan met pyn en skok. Moontlike asemhalingsprobleme kan ook voorkom.

Wat om te doen:
Maak die area skoon met koue water indien moontlik, maar maak seker die water veroorsaak nie dat die kind begin bewe nie. Maak die wond toe met brandwondlappe. Moenie die klere en juweliersware verwyder nie en ontbied so gou as moontlik ’n ambulans. Moet nie blase oopbreek nie. Dis raadsaam om altyd ’n dokter te spreek indien peuters en kinders enige brandwonde opgedoen het.

Bykomende inligting verkry by www.mumstheword.co.za.