Nog miljoene vir Trompsburg se witolifant-hospitaal

0
925
Photo: Albert Nzula Hospital in Trompsburg. Photo: Christopher Clarke

Die Vrystaatse provinsiale regering gaan nog miljoene rande in die Albert Nzula-hospitaal op Trompsburg inpomp, wat nou al sowat drie jaar stof opgaar.

Die hospitaal moes drie jaar gelede al geopen het, maar verskeie probleme, soos bv. ‘n foutiewe rioolstelsel, is glo van die redes vir dié gesloer.

LUR vir Finansies, Elzabe Rockman, het nou ‘n verdere R10 miljoen vir die hospitaal, wat reeds R380 miljoen kos, in haar aansuiweringsbegroting toegeken.

♦  LEES:  VS-polisiehoof verklaar Bloemspruit top-prioriteit

Rockman sê die toekenning vorm deel van R155 miljoen, wat van provinsiale departemente se begroting gereprioritiseer is. Dié geld is aanvanklik vir verskeie projekte in die departemente toegeken, maar besteding het nie na wense geskied nie en van die projekte vat langer as beplan.

Volgens Rockman is die R10 miljoen-toekenning sodat bykomende werk aan die rioolstelsel gedoen kan word.

LUR vir Gesondheid, Butana Komphela, het onlangs in antwoord op ‘n vraag in die wetgewer gesê die hospitaal gaan na verwagting in Januarie volgende jaar amptelik geopen word.

Cathy Dlodlo/Courant-nuus