Nóg milde reën en waterbesparings kan damvlakke laat styg

0
397
FOTO: MARICELLE BOTHA
Droogtegeteisterde gebiede in die suidelike deel van die Noord-Kaap, ‘n groot deel van die Vrystaat en dele in Noordwes het nog meer reën nodig sodat damvlakke drasties kan styg.
Die Department van Water en Sanitasie se woordvoerder, Sputnik Ratau, sê al het dit verlede week en die afgelope naweek goed gereën in sekere dele van sentraal-Suid-Afrika het die algehele gemiddeld van die vlak van die belangrikste voedingsdamme in die Vrystaat slegs met onder 2% gestyg.  Die algemene vlak van damme in die Vrystaat het slegs van 49,6% na 51,3 gestyg.

Hy sê reëvalsyfers wat die afgelope naweek en verlede week in gebiede in die Vrystaat en Noordwes gemeet is het gewissel van 30mm tot 100mm. Baie meer reën is egter nodig voordat damvlakke veral in die Vrystaat drasties kan styg. “As ons tien keer meer van die hoeveelheid reën wat veral die afgelope naweek geval het kan kry, sal dit goed wees,” sê hy.

Ratau beklemtoon die belangrikheid van waterbesparing deur verbruikers.

Twee groot damme in die Vrystaat, die Gariepdam en die Vanderkloofdam is onderskeidelik 43% en 53% vol teenoor onderskeidelik 48% en 71.8% dieselfde tydperk verlede jaar. Die Sterkfonteindam staan op 86,6% teenoor 87,2% verlede jaar.

Die Knellpoordam staan op slegs 39,7% die Erfenisdam op 38,4% en die Rustfonteindam op 27%. Ratau sê die Krugersdriftdam is slegs 9,9% vol terwyl die Erfenisdam (38,4%), Armenia 933,3) en die Rusfonteindam (27%) vol is.

Die damvlaksyfers is vandeesweek Maandag geneem. – Christal-Lize Muller