Nicole wen 10 km-Spar Ladies- junior wedloop gerieflik

0
510
Die Sasolburger, Nicole Louw (middel) het Saterdag in Pretoria gewys dat sy moeilik geklop word in Suid-Afrikaanse junior geledere in langafstandnommers. Sy het die 10 km-Spar Ladies vir junior vroue in 'n haastige 36:35 beklink. Die Bloemfonteiner, Tyler Beling, was tweede en Shanley Koekemoer van Gauteng-Noord was derde. FOTO: ANNE RODRIGUES LOUW

Drie van die Vrystaat se voorste langasems het Saterdag op die vierde van ses byeenkomste in die 10 km-Spar Ladies-padwedloopreeks in Pretoria gewys dat die provinsie steeds ‘n krag is om mee rekening te hou in Suid-Afrika.

Nicole Louw (KPMG), Tyler Beling (Hoërskool Fichardtpark) en die Suid-Afrikaanse veldwedloopkampioen vir senior vroue, Kesa Molotsane (KPMG), het onderskeidelik goud, silwer en brons gebuit op dié byeenkoms wat sowat 25 000 deelnemers gelok het.

Die uiters talentvolle Louw, ‘n wêreldkampioenskap-atleet in die jeugafdeling (1500 m) en óók ‘n Suid-Afrikaanse verteenwoordiger op die wêreld-veldwedloopkampioenskap in die junior afdeling vroeër vanjaar, was die ster onder die genoemde Vrystaatse trio. Sy het die afdeling vir junior vroue met ‘n skitterende binnelandse tyd van 36:35 oor ‘n moeilike roete haar eie gemaak.

Sy het boonop die onderskeiding behaal deur algeheel die tiende plek te vul en dit sluit van die beste senior vroue-langafstandatlete in Suid-Afrika in.

Louw is in die junior wedloop gevolg deur Beling, wat die goud en silwer vir die Vrystaters verseker het. Beling, die nasionale skolekampioen in die 3000 m (19 jaar) het ‘n algehele veertiende plek losgehardloop en haar beste tyd van haar loopbaan (37:15) aangeteken.
Die Pretorianer, Shanley Koekemoer (KPMG, 37:18), moes tevrede wees met die derde plek agter die Vrystaters.

Die Kovsie, Molotsane, wat die voorloper is in die Spar-reeks, was derde onder die senior vroue. Die feit dat sy sowat twee weke voor die Pretoria wedloop nog op krukke was met ‘n besering, verleen soveel meer aansien aan haar derde plek.

Molotsane het ‘n tyd van 34:53 aangeteken nadat sy tot by die ses kilometer-merk steeds binne trefafstand van die uiteindelike wenner, Irvette van Zyl (Nedbank, 34:36), en die silwermedaljewenner, Nolene Conrad (KPMG, 34: 48), was.

Haar konstante goeie vertonings gedurende die Spar-reeks, maak van Molotsane die gunsteling om die reeks te beklink.

By die eerste wedloop van die reeks (Kaapstad, 2 April) is Molotsane (32:56) met een sekonde geklop deur Louisa Leballo (32:55). Laasgenoemde is egter onlangs vir agt jaar geskors vir die gebruik van die onwettige middel, EPO. Van Zyl was toe derde in (33:04)
Tydens die tweede byeenkoms (Port Elizabeth, 6 Mei) het Van Zyl (tweede, 33:21) weer in Molotsane (33:13) vasgekyk.

Durban het gasheer gespeel vir die derde byeenkoms en hier kon geen Suid-Afrikaner vir Molotsane (33:31) troef nie. Hoewel Molotsane tweede was, was dit die uitlander, Tish Jones (Engeland, 32:58), wat voor haar geëindig het. Van Zyl moes bes gee in dié wedloop en dit het die gaping in die reeks vir Molotsane sodanig vergroot dat sy moeilik ingehaal gaan word by die oorblywende wedlope wat 20 Augustus (Pietermaritzburg) en 8 Oktober (Johannesburg) plaasvind.

Die blinde 5000 m-wêreld-rekordhouer van die Kovsies, Louzanne Coetzee het ook aangetree in Pretoria en dié keer saam met Anastacius Ontong (gids) die wedloop aangedurf.

Coetzee het ‘n uitmuntende wedloop gehardloop en haar vorige beste tyd in die 10 km met meer as twee minute verbeter. Sy het die eerste keer in haar loopbaan onder 40 minute (39:11) gaan draai en nóg ‘n veer in die hoed vir dié Bloemfonteinse vegter – sy het onder die voorste 30 atlete klaargemaak. – RUFUS BOTHA