Natuur bly Namibië se meesterstuk

0
601
Die Canyon Roadhouse. FOTO: MARICELLE BOTHA

Die Visrivier-canyon is die grootste canyon in Afrika en die tweede grootste in die wêreld naas Amerika se Grand Canyon. Hierdie gewilde toerisme-aantreklikheid lok elke jaar honderde besoekers en of jy hierdie natuurwonder van bo uit die kranse besigtig of dit te voet aanpak, jy sal vir seker verslae staan voor die grootheid daarvan. Soos meeste afstande tussen dorpe in Namibië, is dié tussen Aus en die canyon ’n redelike een (sowat 400km) en beslaan dit ’n groot deel van die dag. Juis daarom is dit nodig om seker te maak dat jy ten minste ’n dag het om by jou bestemming deur te bring. Wanneer jy kort voor Seeheim van die B4roete afdraai, weet jy die pad is nou kort.

Die Visrivier-canyon FOTO: MARICELLE BOTHA
Die Visrivier-canyon FOTO: MARICELLE BOTHA

By Seeheim gaan nie veel aan nie, en die gehuggie is meestal bekend vir die kliphotel wat in 1896 gebou is om Schutztruppe (Duitse koloniale magte) te huisves. Stop egter gerus hier om ietsie te drink en die pragtige hotel te aanskou voordat jy verder ry. Hoe nader jy aan die canyon kom, hoe meer oornagopsies kom jy teë. ’n Oord wat egter iets vir ’n ieder en ’n elk bied, is die Fish River Canyon Village. Die personeel hier gaan uit hul pad om jou verblyf ’n ervaring enig in sy soort te maak, en of jy in die ‘village’ bly, wat uit ’n laer kliphuisies bestaan, of by die meer gesogte plaashuisies van die lodge, hul gasvryheid sal jou in die toekoms laat terugkeer.

Die ou Nama-god, Haitsi Aibeb, se ‘graf’ by die Fish River Canyon Village. FOTO: MARICELLE BOTHA
Die ou Nama-god, Haitsi Aibeb, se ‘graf’ by die Fish River Canyon Village. FOTO: MARICELLE BOTHA

Voordat jy die oord verlaat, neem ’n minuut of twee om by die ou Nama-god, Haitsi Aibeb, se ‘graf’ by die voordeur, waar baie besoekers volgens gebruik eer betoon en vir ’n voorspoedige reis vra. Die canyon is sowat 20km van die lodge geleë en is toeganklik van die Hobasingang van die Ai-Ais Nasionale Park of Richtersveld-oorgrenspark af. Daar is pragtige uitkykpunte, wat veral iets besonders bied met sonsopkoms of sonsondergang. Stappers, wat deur die canyon stap, vertrek van die Gondwana Mule Station af. Dit is ’n vyf- tot sesdag-staptog wat nie in enigiemand se broek sit nie. Indien jy besluit om só ’n ekspedisie aan te pak, maak seker dat jy stapfi ks en deur jou dokter as gesond verklaar is.

Die Canyon Roadhouse. FOTO: MARICELLE BOTHA
Die Canyon Roadhouse. FOTO: MARICELLE BOTHA

Die een plek waar jy beslis jou dors en honger moet gaan les voordat jy van die canyon af vertrek, die Canyon Roadhouse. Jy sal die gebou met die rooi dak, gebou in die tradisionele styl van ’n inryrestaurant, nie kan mis nie. Die buitekant van die gebou, met sy geroeste ou Chevvies en Fords uit ’n vervloë era, gee reisigers maar net ’n kykie van wat aan die binnekant wag. Binne-in die restaurant is tafels tussen verskeie motors en onderdele geplaas. By die Pompstasie (kroeg) kan jy jou dors les terwyl jy jou kan verkyk aan die verskeidenheid klassieke voertuie en vervoer-paraphernalia.

Keetmanshoop se Kokerboomwoud FOTO: MARICELLE BOTHA
Keetmanshoop se Kokerboomwoud FOTO: MARICELLE BOTHA

Wanneer jy die pad van hier af in die rigting van Keetmanshoop, net noord van die dorp, vat, kry jy ’n bordjie wat jou sal lei na Namibië se bekende Kokerboomwoud, asook die Speelgrond van die Reuse (Giants’ Payground). ’n Besoek hier is beslis die moeite werd. Die woud is op die plaas Gariganus, sowat 13km noordoos van Keetmanshoop, op die M29 geleë. Die Kokerboomwoud is op 1 Junie 1955 as ’n nasionale monument verklaar. Die groot bome in die woud is tussen 200 en 300 jaar oud. Die naam kokerboom kom van die Khoi en San wat die boom se sponserige stam uitgehol het en as koker vir hul pyle gebruik het. By die Speelgrond van die Reuse is ’n vreemde kliplandskap bestaande uit besonderse doleriet-rotse wat lyk asof hulle deur reuse opgestapel is. Die rotse bestaan al meer as 170 miljoen jaar en het hul oorsprong in vulkaniese basalt. Die woestynsand het reeds deur die jare van die rotste geskuur en gepoleer.

Die magiese Speelgrond van die Reuse. FOTO: MARICELLE BOTHA
Die magiese Speelgrond van die Reuse.
FOTO: MARICELLE BOTHA

Van hier af, vat die pad na Mariental. Hier slaap jy oor in die pragtige Kalahari Anib Lodge in die middel van Namibië se Kalahariwoestyn. Dit is ’n oase in die woestyn en ’n oornagstop wat beslis aanbeveel word. Die volgende dag is dit tyd om Windhoek se kant toe te staan. Rek ’n bietjie bene in Rehoboth. Dié dorp het ’n ryk geskiedenis en by die Shell-vulstasie is daar ’n permanente uitstalling waar jy ’n bietjie meer oor die dorp en sy inwoners kan lees.

Die pragtige Kalahari Anib Lodge. FOTO MARICELLE BOTHA
Die pragtige Kalahari Anib Lodge. FOTO MARICELLE BOTHA

In 1870 het die Basters, wat uit die Kaapkolonie in 1868 gemigreer het, hul intrek in die gebied geneem en is daar toestemming deur die deelnemers aan die vredeskonferensie van Okahandja (op 23 September 1870) gegee dat hulle hul in Rehoboth kon vestig. Binne ’n paar jaar was die Basters nou verbind met die dorp, sodat hulle geïdentifi seer is as Rehoboth Basters of Rehobothers. Die grootse deel van dié bevolkingsgroep woon vandag nog op hierdie dorp. Van hier af is dit sowat 90km tot in Windhoek. Windhoek is die hoofstad van Namibië en hoewel dit die mekka van sakebedrywighede is, is dit nie naastenby so ’n rondgeskarrel soos in Johannesburg of Kaapstad nie. Probeer ’n stadstoer organiseer. Daar is ongeloofl ike museums en geboue soos die Helde-akker (buite die dorp), die Alte Feste, Schwerinsburg-kasteel en die Christuskirche. Geen besoek aan Windhoek sal egter volledig wees sonder ’n besoek aan die immerbekende Joe’s Beerhouse nie. Dié wat al daar was, kan nie uitgepraat raak daaroor nie, en dié wat nog nie daar was nie, hoop om eendag daar uit te kom. Joe’s Beerhouse is ’n landmerk in eie reg, bekend vir sy Duitse cuisine en verskeidenheid bier. Dit is beslis ’n plek waar jy jou Namibiese reis in ’n atmosfeer van ware Namibiese gasvryheid kan afsluit voordat jy die vlug terug Suid-Afrika toe aanpak. – Maricelle Botha

maricelle@centralmediagroup.co.za

Bruikbare Nuus

Wat om te doen: Stap deur die Visrivier-canyon. Besoek Ai-Ais se warmwaterbronne. Besoek die Kokerboomwoud by Keetmanshoop. Besoek die Speelgrond van die Reuse by Keetmanshoop. Besigtig die Nautedam met sy dadelplantasies en wingerde. Gaan op ‘n wildsrit by die Kalahari Anib Lodge en geniet die sonsondergang met ietsie om te drink. Besoek Namibia Crafts Centre in Windhoek vir daardie laaste geskenkies.

Waar om te bly: Visrivier-canyon: Fish River Canyon Village info@gondwana-collection.com http://www.gondwana-collection. com/home/

Mariental: Kalahari Anib Lodge info@gondwana-collection.com http://www.gondwana-collection. com/home/

Windhoek: Hotel Safari reservations@safarihotelsnamibia. com https://www.safarihotelsnamibia. com/

Bonus-wenke: Suid-Afrikaners kry afslag op hul verblyf- en etetarief as hulle in enige hotel oornag wat aan die Gondwana-groep behoort. Maak gebruik van Impala Tours om in enige van jou reisbehoeftes te voorsien. Sy operateurs ken die land soos die palm van hul hand en jy kan weet dat jy te alle tye veilig en geriefl ik sal reis. (http://www. impalatours.com/) •

Handige kontak-besonderhede: Besoek Impala Tours – http://www. impalatours.com/

Vir meer inligting besoek www.namibiatourism.com.na.

ntblogo