‘n Vissermanstorie van’n ander aard

    0
    2192
    Die gesteelde katrol wat ná twee jaar teruggevind is.

    ‘n Plaaslike sakeman, Abel Erasmus sr, se foon lui die afgelope week sonder ophou. Hy word oorval deur oproepe van mense oor die land heen wat die goeie nuus met hom wil deel. Die nuus is dat sy visstok se katrol, wat twee jaar gelede spoorloos verdwyn het, in een van Suid-Afrika se buurlande gevind is. Sy verlore katrol is op ‘n mark in Vilankulos in Mosambiek ontdek.
    Erasmus vertel hy het sowat twee jaar gelede aan sy vakansiehuis in Vilankulos laat werk. Nadat die verbeterings by die huis aangebring is, het hy besef sy visvangtoerusting, wat hy in ‘n solder gebêre het, is gesteel.
    Hy het ‘n saak by die plaaslike polisie gemaak, maar van die verlore goedere het daar niks gekom nie – tot Carlos Carvalho van Maputo ‘n katrol op ‘n mark raakgeloop het wat beslis nie gelyk het of dit daar hoort nie.
    Op die katrol was die naam, Abel Erasmus – 30 jaar, sowel as Interstate Bus Lines gegraveer. Toe Carvalho by die eienaar van die stalletjie navraag doen oor waar die katrol vandaan kom, kon die man nie duidelikheid oor die saak gee nie. Carvalho het die katrol gevat, omgedraai en daarmee weggeloop. Kort daarna het die groot soektog na Abel Erasmus begin.
    Erasmus, ‘n ywerige visserman, sê hy was totaal uit die veld geslaan om te hoor dat die katrol, waaroor hy baie sentimenteel is, gevind is.
    “Die katrol is vir my baie spesiaal. Ek was voorheen die eienaar van Interstate Bus Lines en die personeel van die maatskappy het dié katrol destyds aan my gegee met die besigheid se 30ste verjaardag, juis omdat hulle weet hoe lief ek vir visvang en die see is. Dit is vir my regtig spesiaal.”
    Erasmus sê hy gaan die komende Desember-vakansie in Vilankulos tyd deurbring en het met Carvalho gereël om sy geliefde katrol terug te kry. – Maricelle Botha
    maricelle@centralmediagroup.co.za