‘n Transito-rooftog in Welkom

0
943

‘n Onbekende bedrag geld is vanoggend in ‘n gewapende transito-rooftog by ‘n inkopiesentrum in Welkom gebuit. Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Mamello Mokhuoane, sê twee mans, albei gewapen, het ‘n veiligheidswag van die Group 4 sekuriteitsmaatskappy omstreeks 10:00 by die uitgang van ‘n inkopiesentrum voorgekeer. Hulle het ‘n wapen op hom gerig en geld, wat hy by die Usafe-supermark afgehaal het, geëis. Die geld was in ‘n houer. Sy sê die rowers het met ‘n wit Mercedes-Benz met ‘n GP-registrasienommer op die vlug geslaan. Niemand is in die voorval beseer nie.

Twee ander gewapende transito-rooftogte het verlede Woensdag by ‘n bank by Prellerplein in Bloemfontein en Vrydag by ‘n onderneming in Hilton in die stad plaasgevind. Sekuriteitswagte van SBV en Fidelity Coin is beroof. ‘n Wit Mercedes-Benz is in die Hilton-rooftog gebruik. ‘n Sekuriteitswag van SBV is in die Prellerplein-voorval gewond. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.  – Christal-Lize Muller