‘n Toestand van (musikale) vreugde

0
538
Bliss-acapellagroep: Lize-Marie Swart, Dominique le Riche, Wilmie van Schalkwyk, May-Mari van Wyk, Alta Vermeulen, Rianie Kriel, Chrisna van Heerden en Nicolien Wydeman.

‘n Groep dinamiese, jong, werkende dames het almal ‘n liefde gemeen wat deur hul are vloei: Musiek. Wanneer Bliss-acapellagroep sing, maak hul naam heeltemal sin. Courant het met dié groep jong musikante gesels kort ná hul optrede by Gallery on Leviseur.

Hoe lank bestaan Bliss al, en hoe het julle tot stand gekom?
Bliss bestaan eintlik al sedert 2012. Ons het onderskeidelik almal ons unieke musiek- en sing-ervarings van baie jare, maar die gemene faktor in daardie stadium was universiteitsêr. Min van ons het in dieselfde groepe gesing, maar almal is in ‘n stadium daardeur, en ons het besluit dat “groot”-word en die regte wêreld met “regte” werke ons nie gaan weghou van ons liefde – musiekmaak – nie.

Hoe beskryf julle jul musiekstyl en -keuses?
Ons musiekstyl en -keuses vloei uit die feit dat ons agt baie uiteenlopende mense is. Dit is dus baie moeilik om vas te stel wat presies ons styl is, maar dit is beslis geïntegreer met al agt ons persoonlikhede. Ons benader ons keuses gewoonlik deur aan die begin van die jaar ‘n lys liedjies bymekaar te sit wat ons graag sou wou sing, en dan nader ons verwerkers om ons te help daarmee. Ons huidige repertoire strek van populêre treffers van Taylor Swift en Justin Bieber tot die Afrikaanse legendes, Laurika Rauch en Steve Hofmeyr, tot meer gewyde liedjies soos Amazing Grace.

Waarom acapella?
Waarom nie! Dit is die tipe sang waarvoor ons almal lief is en, na ons mening, die mees uitdagende vorm van musiek is. Daar is geen backtrack of ander instrumente wat jou kan red nie en jy moet te alle tye sorg dat jy 100% weet wat jy doen. Omdat ons so min is, is dit uiterers belangrik om tyd te bestee aan tegniese aspekte soos klankbou en asembeheer – dit is voorwaar ‘n kuns as ‘n mens dit kan bemeester!

Hoe het julle op die naam Bliss besluit?
Dit het baie lank gevat om op ‘n naam te besluit. Die oorspronklike storie sal altyd ‘n geheim bly tussen die stigterslede, maar toe ons die naam eers begin gebruik het, het ons besef dat dit absoluut perfek is. Die woord bliss in Engels beteken eenvoudig ‘n toestand van vreugde of ekstase of absolute geluk en tevredenheid – die gevoelens wat ons self ervaar wanneer ons mooi musiek maak, maar ook wat ons hoop om by ons gehore tuis te bring.

Wie doen julle musiekverwerkings?
Al die verwerkings wat ons tans gebruik, is verwerk deur mense wat ons ken. Stefan Buys en Cobus Badenhorst is vriende wat ons deur sêr gemaak het tydens univeriseitsjare en hulle deel ons liefde vir acapella. Ons nader gereeld een of albei van hulle om vir ons iets nuuts te verwerk of om ou sêrverwerkings vir ons gebruik aan te pas. Stephan Bezuidenhout was ‘n sêrafrigter van ‘n paar van ons lede. Ons sing ook ‘n paar van sy ou verwerkings. Anton Esterhuizen het onlangs by ons lys van verwerkings aangesluit en sy aanslag is heeltemal anders as waaraan ons nog altyd gewoond is, maar die eindresultate is hoendervleis-mooi. Alta Vermeulen, een van ons groeplede, het ook al vir ons ‘n hele paar verwerkings gedoen.

Wat kan ons van julle verwag in die toekoms?
Niemand van ons is musikante van beroep nie, wat beteken dat dit baie moeilik is om té groot te dink. Ons kan nie noodwendig Bloemfontein verlaat in die strewe na platekontrakte, landwye toere of nasionale optredes nie, maar nietemin hoop ons om vir onsself plaaslik naam te maak. Ons beoog wel om voor die jaar om is ons klank vas te vang met ‘n paar opnames. Die CD sal nie noodwendig vir die kommersiële mark wees nie, maar meer vir die mense met wie ons direk te make het.
Die lede is: Dominique le Riche, Rianie Kriel, Alta Vermeulen, Wilmie van Schalkwyk, May-Mari van Wyk, Nicolien Wydeman, Lize-Marie Swart en Chrisna van Heerden.
Besoek hul Facebookblad, Bliss Acapella, vir video’s en meer inligting oor die groep. – Lani Fouché
lani@centralmediagroup.co.za